Estimated reading time: 6 minutes
In ’n wêreld waar hoë insetkoste en verbruikersbehoeftes deurslaggewend is, is dit belangriker as ooit dat rooivleisprodusente lammers produseer waaruit nie net die produsent nie, maar ook die volgende skakel in die waardeketting voordeel sal trek.
Die algemene siening dat niemand winsgewend boer nie, of dat ander rolspelers in die waardeketting groter finansiële voordeel trek, het produsente in die Hanover-distrik aangespoor om die situasie ernstig te bedink. Hulle het met die nodige ondersteuning ’n skaapvoerkraalprojek begin om metodes te ondersoek wat meer waarde tot bemarkbare speenlammers toevoeg, in plaas van die norm waar slegs die hoeveelheid daarvan van belang is.
Die projek dien terselfdertyd as ’n platform waar almal – van die produsent tot die voerkraal en abattoir – insette kan lewer oor elkeen se aandeel in die waardeketting, wat gevolglik verwarrende aannames vermy.
Lamgroei in afrondingstoestande
Die data wat by die Hanover-voerkraal ingesamel word, word verwerk na inligting wat produsente help om hul produk beter te verstaan en die moontlikhede vir groter winsgewendheid te ondersoek. Dit laat geen ruimte vir raaiskote of veralgemenings nie.
In 2024 het elke deelnemer groepe van ses lammers ingeskryf. Elke produsent het ses of meer lammers gekies om saam met ander produsente se diere in ’n voerkraal afgerond te word, met lammers wat in vier krale ingedeel is. In 2025 het die projek aansienlik gegroei, met altesaam 62 groepinskrywings en ’n totaal van 372 lammers.
Hierdie lammers is op een van die deelnemende produsente se plase gehuisves. Die diere is elke twee weke geweeg, hul vaggewigte is tydens skeer geneem en ’n optical fibre diameter analysis of OFDA-woltoets is gebruik om die veseldikte te bepaal. Verder is elke individuele karkas geweeg asook die kraalvoerinname wat benodig was.
Tabel 1: Data wat tydens die Hanover-skaapvoerkraalprojek ingesamel is.
| Kriteria | Minimum | Maksimum | Gemiddeld |
| Begingewig (kg) | 21 | 42,50 | 28,60 |
| Eindgewig (kg) | 28 | 62,50 | 44,67 |
| Gemiddelde daaglikse toename (GDT) | 0,05 | 0,56 | 0,33 |
| Karkas (kg) | 12,30 | 30,70 | 21,66 |
| Vaggewig (kg) | 0,60 | 4,05 | 1,81 |
| Wolinkomste | R12,74 | R395,98 | R170,55 |
| Gradering | 0 | 5 | 2,5 |
Tendense in lamproduksie
- Die waardeketting het ‘n behoefte aan lammers wat vroeër markgereed is – dus A-graad diere. In sekere gebiede is dit onmoontlik om diere vanaf die veld markgereed te kry en daarom word lammers in afrondingsfasiliteite geplaas. Insetkoste soos brandstofpryse het gestyg en daar is ook minder abattoirs in die land weens ’n afname in beskikbare diere, wat veroorsaak dat diere al hoe verder na markte vervoer moet word.
- Die grond waarop produsente boer, kan slegs ’n sekere aantal ooie akkommodeer. Optimale produksie speel dus ’n groot rol, met die skeer van wol en speenlammer-aanwas wat belangrike faktore is.
- Hamelboerderye is kleiner en minder ramlammers word as hamels aangewend.
- Lammerproduksie mik vir optimale karkasgrootte sodat hulle vinnig slaggereed sal wees.
- By dubbeldoelrasse word al hoe meer klem op vleisproduksie geplaas vanweë droogtes, wisselende pryse en siektes.
Beter bestuur, beter waarde
Elkeen in die waardeketting moet verantwoordelikheid vir hul produkte neem deur:
- Kennis te hê van die produk wat geproduseer, bemark of verkoop word.
- Die vraag in die mark te identifiseer.
- Te bepaal hoe die vorige persoon of entiteit in die waardeketting met die produk help.
- Te bepaal wat gedoen kan word om ’n optimale produk vir die volgende persoon in die waardeketting te lewer.
Om ’n optimale produk te produseer, kan produsente van die dienste van ’n skaap- en woladviseur asook ’n voedingkundige gebruik maak. Data en tegnologie asook ’n dieregesondheidsprogram kan ook van groot waarde wees.
Waarde in produksiegedrewendheid
Die projek, met vleis as hoofinkomste, is nie gegrond op algemene teorieë nie, maar eerder op die inligting wat ’n boerdery se kern (bottom line) beïnvloed. Dit is byvoorbeeld maklik om te sê iets is duur, maar as ’n produk R5 kos en die produsent maak R15 wins, is dit ’n belegging. Die klemverskuiwing moet dus wees van kostegedrewe na produksiegedrewe vooruitgang, waartydens maniere oorweeg word om ’n lam se waarde en die produsent se doeltreffendheid per hektaar te verhoog.
Dit beteken nie noodwendig dat almal skielik hul lammers moet afrond nie. Die belangrikste aspek is om lammers te verkoop wat vir die produsent én die volgende skakel in die waardeketting van waarde is.
Die Hanover-skaapvoerkraalprojek het produsente in staat gestel om hul diere se potensiaal binne die betrokke omstandighede te identifiseer. Daar is onder andere gekyk na speengewig teenoor finale slaggewig, met tussen R200 en R500 se waarde wat per lam bygevoeg is. Hoewel prys en koste ’n rol speel, kan produsente met die hulpmiddels tot hulle beskikking hul produksie so doeltreffend as moontlik maak. Wanneer vertikale groei plaasvind, gaan dit nie net oor die hoeveelheid speenlammers in die kraal nie, maar oor die daarstel van ’n hoë-gehalte produk wat aan al die nodige vereistes voldoen.
Bevindinge uit die projek
- Ekstra kilogram vleis wat geproduseer word bied die potensiaal van wins deur ’n goeie voeromsetverhouding.
- Koue en hitte het ‘n groter uitwerking op voerinname en lammers se groei as wat algemeen aanvaar word.
- ‘n Lam se eindgewig is baie belangrik en ’n goeie gemiddelde daaglikse toename (GDT) is dus noodsaaklik. ’n Lam wat te vroeg geslag is, kan die produsent se winste negatief beïnvloed.
- Die hamels in die proef het tot dusver stadiger as die ramme gegroei, wat normaal is. Dit sal interessant wees om te sien wat die uitwerking op winsgewendheid sal wees indien hamels ook op 48kg geslag word eerder as op dieselfde tyd as die ander diere.
- ’n Kombinasie van faktore – insluitend begingewig, uitslagpersentasie en GDT – bepaal wins, in samehang met die markprys.
- Waar ‘n dier se vleis ’n verlies sou beteken, kan wol ’n wins beteken.
- Wins word nie deur ’n enkele voerkraalwinsdrywer bepaal nie, maar deur ’n kombinasie van faktore.
Praktiese aanpassings
‘n Paar praktiese aanpassings kan gemaak word om beter resultate in so ‘n proef te lewer. Een daarvan is dat hamels en ramme liefs in aparte krale gehou moet word omdat hulle sosiale gedrag verskil. Hamels is rustiger, terwyl ramme geslagsrypheid nader en mekaar spring. Sou hulle die hamels spring, kan die hamels se groei nadelig geaffekteer word.
Horingskape en poenas hoort ook in aparte krale. Daar is uiteenlopende opinies hieroor, maar dit is belangrik om te oorweeg of die saamvoeg van hierdie groepe ’n spasie- of groei-uitdaging gaan veroorsaak.
Diere moet geslag word sodra hulle slaggereed is. Dit is belangrik om in ag te neem dat verskillende rasse en geslagte se ideale gewigte verskil. ’n Dier wat te vroeg geslag word, kan tot ’n verlies lei, terwyl ’n dier wat te laat geslag word, nie noodwendig optimaal gegroei het nie.
Oorweeg ook om al die diere gelyktydig te skeer, sodat ’n vergelyking van wolgroei en vleisproduksie tussen groepe gemaak kan word.
Ten slotte
Met ’n projek soos hierdie leer ’n mens jaarliks al hoe meer. Elke seisoen bied nuwe uitdagings en groeigeleenthede. Dit herinner ons daaraan dat landbou ’n voortdurende leerproses is waarin aanpassing en verbetering noodsaaklik is vir volhoubaarheid. ’n Mens is nooit te oud of te jonk om iets te leer nie; hierdie projek bewys dat kennis en groei saam die bedryf vooruit sal neem. – Carin Venter en Hannelet Jordaan, DSS-bestuurder, BKB
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan Hannelet Jordaan by hannelet.jordaan@bkb.co.za of skakel 060 500 8190.





