Beter ruvoer, beter prestasie

Een van die belangrikste hulpbronne op veeplase is sekerlik die beskikbare weiveld. Daarom is dit van kardinale belang vir boere om die veld te ken, te bestuur, te bewaar en doeltreffend as ruvoerbron te benut om die beste diereprestasie te verkry.

Alhoewel die veld afhanklik is van goed verspreide reën deur die loop van die jaar, bied dit deurgaans ’n ruvoerbron wat aan die meeste voedingsbehoeftes van vee voldoen. Dit is ’n kuns om die veld so te bestuur dat daar voldoende ruvoer op kritieke tye is. Tog is daar baie boere wat die kuns bemeester het.

In normale omstandighede is daar vier belangrike fases in veeboerdery wat reg bestuur moet word om optimale diereprestasie te verseker, naamlik:

  • paartyd;
  • voor lam en met lamtyd;
  • gedurende laktasie; en
  • speentyd.

Energie en proteïene

Energie en proteïene is die belangrikste voedingstowwe wat optimale diereprestasie moontlik maak. ’n Tekort hieraan lei regstreeks tot verlaagde vrugbaarheid, asook, ’n lae geboortemassa en swak oorlewingsvermoë by lammers. Sonder hierdie voedingstowwe word melkproduksie en wolgroei onderdruk, en toon die meeste diere massaverlies.

Die boer moet dus deurgaans monitor of die diere in spesifieke kampe genoegsame voedingstowwe beskikbaar het. Dit kan gedoen word deur vee met tussenposes te weeg en kondisiebepalings te doen. Baie boere het al “die oog ontwikkel” om dadelik te sien wanneer vee in ’n kamp agteruitgaan.

Ander voedingstowwe, soos minerale, vitamiene en spoorelemente wat ’n belangrike deel van dierevoeding uitmaak, is meestal in die veld aanwesig en kan in sekere omstandighede aangevul word wanneer die veld nie voldoende ruvoer kan lewer nie. In die verskillende produksiefases is die regte gehalte en hoeveelheid ruvoer belangrik.

Faktore wat beter ruvoer vir beter diereprestasie bepaal

  • ’n Goed beplande weidingstelsel. So ’n stelsel sal in ’n groot mate verseker dat genoeg ruvoer op die veld tydens belangrike fases in die boerdery beskikbaar is. Dit sal verseker dat genoeg spaarveld beskikbaar is en dat veld genoeg rus kry vir die produksie van ruvoer. Oorbeweiding en onoordeelkundige veldbenutting moet tot die minimum beperk word.
  • Bly binne die drakrag.
  • Ken jou veld en plantegroei.
  • Identifiseer kampe wat geskik is vir paring, lam en speen. Probeer om nie elke jaar dieselfde kampe vir paar, lam en speen te gebruik nie.
  • Onttrek vee betyds tydens droogtes sodat die veld nie oorbenut word nie. Ouer diere en hamels kan eerste onttrek word.
  • Weeg diere deurlopend. Diere wys dadelik wanneer die ruvoervoorsiening op die veld verminder.
  • Hou rekord. Beter beplanning en besluitneming kan net met goeie rekords geskied.

Paartyd

Voor paartyd is dit belangrik dat ooie in liggaamsmassa toeneem om hoër besetting te verseker. Ooie kan geprikkel word deur hulle drie weke voor paring in kampe te sit wat goed gespaar is en genoeg ruvoerreserwes het. Ooie kan met tussenposes geweeg word om te bepaal of hulle in massa toeneem.

Die sukses en winsgewendheid van ’n skaapboerdery vir beide wol- en slaglamproduksie word grootliks deur die persentasie bemarkbare lammers bepaal. Ooie met ’n hoë aanvangsmassa en ’n toename in liggaamsmassa (as gevolg van prikkelvoeding of spaarkamp) tydens die paarperiode verseker ’n hoë speenpersentasie.

Vroeë en middragtigheid

Tydens die eerste 30 dae van dragtigheid moet ooie op ’n voedingspeil gehou word wat voldoende is om hulle kondisie te handhaaf.

  • Skielike verandering in kampe kan tot embrioverliese lei.
  • ’n Proteïentekort kan daartoe lei dat tot 55% van die ooie hul embrio’s laat resorbeer (verdwynfaktor).
  • In middragtigheid (30 tot 90 dae) moet ooie voldoende voeding ontvang om maksimum plasenta-ontwikkeling te verseker. Swak plasenta-ontwikkeling verhoog lamvrektes met tot 15% as gevolg van ’n lae geboortemassa.

Laatdragtigheid en laktasie

Tydens laktasie is ooie se energiebehoeftes 70% hoër as gedurende die laaste twee weke van dragtigheid.

Liggaamsvetreserwes is dus kritiek belangrik gedurende vroeë laktasie. Gevolglik behoort die gebruik van liggaamsvet tot hierdie tydperk beperk te word, eerder as gedurende laatdragtigheid. Spesifieke lamkampe met voldoende ruvoer behoort in dié fase gebruik te word.

Voeding van jong ooie

Die grootmaak van vervangingsooitjies het ten doel om te sorg dat hulle goed uitgroei en normaal sal ontwikkel sodat hulle reeds op ’n vroeë ouderdom geslagsryp is en optimaal vir hulle leeftyd ontwikkel het. Navorsing het bewys dat ’n hoë voedingspeil vanaf geboorte tot die ouderdom van 14 maande oor die volgende vyf jaar ’n verskil van 20% in lampersentasie in die volwasse ooi tot gevolg gehad het.

Daar is nog boere wat hierdie vervangingsooitjies in swakker kampe grootmaak, wat by die eerste paring swakker besetting tot gevolg het.

Die invloed van ruvoer op wolproduksie

Benewens die voedingsbehoeftes wat vir ander fisiologiese stadiums van die ooi se produksie en reproduksie nodig is, stel wolproduksie spesifieke eise ten opsigte van voeding. Die primêre voedingsbehoeftes vir wolproduksie is tweeledig, en omvat pro- teïene en energie. Omdat wol ’n proteïen is, is ’n proteïenryke ruvoer noodsaaklik vir optimale wolproduksie. Genoegsame ruvoer tydens dragtigheid en laktasie keer ’n te groot afname in wolproduksie.

Ten slotte

Alhoewel weiveld absoluut afhanklik is van goeie en gereelde reën, het dit tog die vermoë om reserweruvoer te berg indien dit reg benut en bestuur word, wat weer beter diereprestasie tot gevolg het. Weiveld as ’n bron van ruvoer vir diereproduksie is sekerlik die grootste bate op ’n veeplaas. Dit moet dus met groot omsigtigheid bestuur en bewaar word. Die gehalte en hoeveelheid ruvoer op die veld kan die grootste bydraende faktor wees wat maksimum wins sal verseker. – Gawie van Wyk