Ooie wat op goeie voedingspeil is tydens en na lam, se melkproduksie piek omtrent 4 weke na lam, terwyl die lam se voedingsbehoeftes op hierdie stadium drasties toeneem (Teacher, 1978). Lammers kan teen hierdie tyd teen 350g/dag groei. Lammers se ouderdom bepaal die omset van voedingstowwe na vleis. Tabel 1 illustreer hierdie goed.
Tabel 1. Invloed van ouderdom op die voeromsetdoeltreffendheid van lammers (Vosloo, 1982)
| Ouderdom (dae) | Massa(kg) | Voeromset (kg/kg) |
|---|---|---|
| 0-42 | 4.5-15 | 1.0:1 |
| 42-60 | 15-20 | 3.0:1 |
| 60-80 | 20-25 | 3.5:1 |
| 80-100 | 25-30 | 4.0:1 |
| 100-120 | 30-35 | 4.5:1 |
| 120-140 | 35-40 | 5.0:1 |
| 140-160 | 40-45 | 5.5:1 |
Lammer moet dus so vroeg as moontlik aan kruipvoer bloot gestel word om die hoogste groei per kilogram voer te verkry. Kruipvoer kan aan lammers gegee word wat:
- Vroeg gespeen gaan word om die ooi sodoende weer vroeër beset te kry
- Lammers wat op swak weidings aankom
- Meerlinge wat melkvoorraad moet deel
- Lammers wat na speen in ‘n voerkraal opset afgerond gaan word
Lammers ondervind ook aansienlik minder speenskok as hulle aan kruipvoer gewoond gemaak was. Lammers wat nie kruipvoer ontvang nie, ondergaan geweldige skok tydens speen, hulle groei neem drasties af en die lammers se latere reproduksie en produksie word negatief beinvloed. Dit is dus ‘n baie goeie praktyk om lammers so vroeg as dag 10-14 aan kruipvoer bloot te stel. ‘n Skaap se wolproduksie word ook vroeg in sy leeftyd bepaal, en tydens die eerste maand van ‘n lam se leeftyd word 70-80% van die wolfollikels volwasse, en ‘n voedingstekort gedurende hierdie tyd sal dus die dier se wolproduksie later negatief beinvloed.
Lammers vreet baie min vastestowwe voor die ouderdom van 3 weke, en die bietjie wat hulle van die veld alleen vreet, is te arm in voedingstowwe om hulle optimal te laat produseer. Kruipvoer sal hierdie tekorte vul. Die lam se rumen is teen hierdie tyd ook nie ten volle ontwikkel nie, en dus sal die lam die die ruvoer wat hy van die veld af kry verteer nie. Die rumen is ook nog baie klein en dus kan die lam nie genoeg inneem om doeltreffend te groei nie.
Ooilammers wat vir hul eerste paar maande onder voedingstremming verkeer, sal ‘n laer ovulasietempo hê en minder lammers produseer oor haar leeftyd. Kruipvoer sal slegs ekonomies wees as die lam genoegsame voer inneem om sodoende groei te stimuleer. Innames behoort gemiddeld 250g/dag te wees vanaf 20 dae-ouderdom tot en met speen. As lammers 250g/dag gemiddeld vreet, sal die lammers suksesvol vroeg gespeen kan word (8 weke ouderdom). Volgens De Villiers et al (2002) is gemiddelde kruipinname van sogende lammers ongeveer 15g/dag op 14 dae ouderdom. Tabel 2 dui hierdie innames en groei aan. Die rumen en die verdere spysverteringskanaal moet ook voldoende ontwikkel wees voordat lammers gespeen word, anders sal daar ‘n vertraging in die lam se groeitempo wees. As die lammers meer as 250g/dag vreet, behoort die lam se rumen voldoende ontwikkel het. Totale kruipvoerinname is ongeveer 25-30kg per lam, afhangende op watter ouderdom die lam gespeen word.
Tabel 2. Gemiddelde kruipvoerinname, lammassa en kruipvoerinname relatief tot liggaamsmassa van sogende lammers, kruipvoer ad lib (De Villiers et al, 2002)
| Ouderdom (dae) | Kruipvoerinname (g/lam/dag) | Lammassa (kg) | Kruipvoerinname/kg ligaamsmass (g) |
|---|---|---|---|
| 28 | 37 | 9.3 | 3.98 |
| 35 | 88 | 12.2 | 7.21 |
| 42 | 173 | 13.5 | 12.81 |
| 49 | 224 | 15.6 | 14.36 |
| 56 | 281 | 16.9 | 16.63 |
| 63 | 403 | 18.7 | 21.55 |
| 70 | 596 | 21.2 | 28.11 |
| 77 | 612 | 23.5 | 26.04 |
| 84 | 625 | 24.5 | 25.51 |
Kruipvoer moet smaaklik genoeg wees dat die lammers dit maklik sal begin vreet en genoegsame innames te verseker. Sojaboonoliekoekmeel, hawergraan, lusernhooi en melasse verhoog die smaaklikheid. ‘n Verpilde kruivoer sal egter beter innames verseker (ook minder vermorsing). Dit sal ook ‘n goeie praktyk wees om 0.5% ammoniumchloried in te sluit om blaasstene by ram- en hamellammers te voorkom.
Daar moet ook gekyk word om ‘n ionofoor in te sluit om suurpens en koksidiose te beheer en om groei te bevorder. Die voer moet ook nie aanvanklik ad lib gegee word nie. Die lammers gaan baie voer mors en hulle verkies ook vars voer. Soos die lammers beter en sterker begin vreet, kan hulle ad lib gevoer word. Kruipvoermengsels moet nie te fyn wees nie; growwer voer “krap” die rumen sodat die rumen papillae vinniger en beter ontwikkel, en die rumen sal dus ‘n verhoogte absorbsie oppervlakte hê om voedingstowwe op te neem. Grane is ook verantwoordelik vir die vorming van bottersuur in die rumen, en bottersuur is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van die rumen papillae.
Kruiphokmates
Kruipvoerders moet so ontwerk wees dat lammers nie in die bakke kan klim nie. Die openinge waardeur die lammers moet kruip, moet tussen 18-25cm wees, afhangende vat die tipe skaap waarmee geboer word. Dit sal handig wees as die openinge se spasies verstelbaar is om dit so aan te pas soos wat die lammers groei. Die kruiphok moet ongeveer 0.18m2 per lam wees. Vreetspasie kan varieer tussen 3-5cm per lam. Die lammers moet maklik toegang hê na die kruiphokke toe. Plaas die hokke dus naby waterpunte, areas waar die ooie gereeld staan of slaap. As dit warm is, sal dit help om skadu te voorsien oor die kruiphok, wat weer die lammers sal lok na die kruiphok toe. Dit help ook as die lakterende ooie ‘n lek of volvoer ontvang, want hulle leer dan die lammers om uit die bakke te vreet.

Vir kruipvoermengsels en verdere tegniese inligting, skakel gerus u plaaslike veevoerverteenwoordiger of u die NWKV kantoor in u provinsie.
Luister waarom kruipvoeding ‘n tegnologie is wat al hoe meer op skaapplase toegepas word.
– Jacques Jansen van Vuuren, NWKV Ermelo – Tel no 083 2355 467 ; Email : wolskaap@mweb.co.za





