Bestuur van vetwol in Slenkdalkoors-besmette gebiede

Estimated reading time: 2 minutes

Op grond van die bevestigde uitbreking van Slenkdalkoors in die Kakamas-gebied van die Noord-Kaap, is verskeie navrae deur besorgde boere uit daardie gebied ontvang rakende die hantering van hul vetwol met verwysing na ’n bevestigde Slenkdalkoors-uitbreking.

  • Slenkdalkoors is as ’n aanmeldbare veesiekte gelys ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984).
  • Dit beteken dat die voorkoms of vermoedelike voorkoms van die siekte deur belanghebbendes (produsente, privaat veeartse, ens.) aan die staatsveterinêre owerhede aangemeld moet word.
  • Finale bevestiging sal volg, en die ligging van die uitbraak moet aan die Nasionale Departement van Landbou (NDL) gerapporteer word.
  • Wanneer die NDL uitbrekings aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) rapporteer, posisioneer dit die uitbreking tot distriksvlak, en dit verskyn in die siekte-uitbrekingverslag op WOAH se webtuiste.
  • Die geïdentifiseerde distrik word vasgelê in die eVerify-stelsel wat die bedryf se gedigitaliseerde nakoming-, verifikasie- en sertifiseringstelsel is wat ook inligting uit die Cape Wools-databasis trek.
  • Die produsentenommers wat uit hierdie distrik afkomstig is word dan met die geïdentifiseerde distrik gekoppel.
  • Slenkdalkoors is een van die vele aspekte wat in die huidige invoerpermitte vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse vetwol na China en Uruguay aangespreek word.
  • Hierdie vereiste word as volg gestel: “To the best of my knowledge and belief, did not come from a farm/district that had reported RVF in the 3 months prior to shearing”.
  • Aangesien dit onmoontlik is om die presiese skeerdatums op elke plaas onafhanklik te verifieer het die bedryf – in oorleg met die sertifiserende veterinêre owerheid – ooreengekom dat vetwol van distrikte waar Slenkdalkoors bevestig is, vir 92 dae na inweeg by ’n uitvoer-goedgekeurde makelaar afgesonder sal word.
  • eVerify stel ook die kopers in kennis van die lotte wol wat geaffekteer is en verskaf deurlopend data oor wanneer elke lot aan die uitvoerprotokol sal voldoen.
  • Op hierdie manier word net wol van produsente in distrikte waar Slenkdalkoors internasionaal bevestig is, geaffekteer
  • Met hierdie maatreëls in plek, word die impak van Slenkdalkoors-uitbrekings op produsente sover moontlik beperk terwyl ons uitvoermarkte beskerm word.

– Cape Wools