Voorkomende inenting teen Slenkdalkoors

Cape Wools SA het Slenkdalkoors as ’n risiko vir volhoubare ekonomiese wolproduksie geïdentifiseer en het riglyne vir inenting teen Slenkdalkoors opgestel. Hierdie riglyne moet egter steeds as algemene riglyne beskou word, en wel met inagneming van die volgende beginsels:

  1. Die gebruik van lewendige entstowwe kan wel nadelig wees vir dragtige diere en kan tot aborsies lei.
  2. Die virus kan tydens ’n uitbreking deur middel van spuitnaalde oorgedra word, gebruik dus een naald per dier.
  3. Slenkdalkoors veroorsaak in sommige gevalle slegs ’n verbygaande, onopsigtelike reaksie by volwasse skape, maar kan tot grootskaalse vrektes onder jong diere lei.
  4. Die winter is die mees geskikte tyd om voorkomend in te ent.

Ernstige versoek om in te ent

In die somerreënvalgebiede word aanbeveel dat alle nie-dragtige vroulike diere gedurende die winter met die lewendige Smithburn-entstof ingeënt word. Wag dan vir die dragtige diere om klaar te lam/kalf alvorens hulle ook soos bo ingeënt word.

Lammers is meer vatbaar, daarom word dit aanbeveel dat ooilammers ’n skraagdosis Smithburn-inenting kry.

Op grond van vorige uitbrekings word ’n lente-skraagdosis met die lewende entstof aanbeveel vir nie-dragtige ooie in die distrikte wat in 2010 geaffekteer was.

Koste

Die totale koste per dier ná twee inentings sal omtrent R13 beloop, maar gegewe dat hierdie program lewenslange immuniteit verskaf, is die koste minimaal. Vir ’n ooilam werk dit op minder as R2 per produktiewe jaar uit.

Die NWKV rig ’n dringende versoek aan boere om onmiddellik die Slenkdal-entstof aan te koop. Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het bevestig dat hulle genoegsame voorraad van dié entstof het, en deur betyds aan te koop kan jy voorbereid wees indien daar wel ’n tekort ontstaan.
 
Inligting verkry van dr George de Kock, voorsitter Cape Wools SA (CWSA), CWSA Slenkdalkoors-werkgroep, wolprodusent by Caledon en gekwalifiseerde veearts.