Sedert die vroeë 2000’s het wol begin wegbeweeg van die kommoditeitsmark en in ’n spesialiteitsmark gevestig begin raak. Die gevolg hiervan is dat die eindverbruiker al meer vrae vra oor die produksieprosesse van wol. Die eindverbruiker het – wêreldwyd en in byna alle bedrywe – ’n verbruikersgewete ontwikkel. Net so plaas omgewingsdrukgroepe en menseregtegroepe druk op kleinhandelaars om eties geproduseerde produkte aan te hou. Nie net moet die produkte eties geproduseer word nie, maar die produsent moet bewyse kan lewer dat hierdie produkte wel so geproduseer is. Daarom is ’n aanvaarde Kode vir Beste Praktyk – en om dit deurlopend te volg – belangriker as ooit.
Die ryke geskiedenis van beste praktyk
Die Kode vir Beste Praktyke (KVBP) is al baie jare gelede deur die wolbedryf opgestel en aanvaar. Dit stel produsente in staat om te bepaal of hulle wolproduksiestelsels aan die eis vir sosiale verantwoordelikheid en aan internasionale gehaltestandaarde voldoen. Dit is belangrik dat produsente hierdie riglyne sal gebruik in hulle daaglikse aktiwiteite op die plaas.
Gelukkig is die meeste produsente reeds van nature daarop ingestel om die riglyne van die kode na te volg en word dit algemeen toegepas. Ongelukkig is daar ook produsente wat hulle nie hieraan steur nie en dit kan maklik veroorsaak dat die hele bedryf skade ly deurdat wolprodukte as gevolg van onetiese praktyke van alle winkelrakke verwyder kan word.
Die kode bied ’n raamwerk waarbinne wolskaapboerdery in Suid- Afrika beoefen behoort te word. Veral volhoubare boerderypraktyke wat dierewelsyn, natuurbewaring, en sosiale verantwoordelikheid insluit, word omskryf om aan bepaalde produksiestandaarde te voldoen. Die kode is ’n lewendige dokument en word van tyd tot tyd aangepas om aan die eise van veranderende produksie- omstandighede te voldoen.
Die handleiding fokus veral op die volgende verantwoordelikhede met betrekking tot diere- en omgewingswelstand:
- Voorsiening van voldoende voeding aan diere vir onderhoud, groei en reproduksie.
- Voorkoming van pyn, beserings, en siektes deur goeie dieregesondheidspraktyke.
- Voorsiening van ’n omgewing waar skape hulle natuurlike gedrag kan uitleef.
- Beskerming teen vrees en ongemak.
- Beskerming teen roofdiere.
- Beskerming teen lewensgevaarlike weerstoestande.
- Beheer oor die gebruik van medisyne en voorkoming van blootstelling aan onnodige of onwettige gifstowwe.
- Bewaring en beskerming van natuurlike hulpbronne.
- Sosiale/etiese verantwoordelikhede van wolskaapboere.
Die voldoening aan etiese produksiestandaarde is lankal reeds algemene praktyk in die vrugtebedryf en geen vrugte kan uitgevoer word alvorens die produsent aan sekere minimum standaarde voldoen nie.
Daar is eweneens wolkopers wat reeds te kenne gee dat hulle geen wol sal koop wat nie aan sekere minimum produksiestandaarde voldoen soos in die Kode vervat is nie. Dit is dus baie belangrik dat elke produsent sy produksie sal rig om aan hierdie minimum standaarde van die Kode vir Beste Praktyk van die wolbedryf te voldoen. Dit kan jou produksie, dierewelstand en -gesondheid, wolverkope, en profyte net goed doen.
Die volledige Kode vir Beste Praktyk is beskikbaar op Cape Wools se webbladsy by https://www.capewools.co.za/view-pdf/17/2/cape-wools-code-of-best-practice#PDF/1. Laai dit gerus af deur die skakel te gebruik en vergewis jou van die inhoud daarvan. – Jan Louis Venter






