Lamtyd is ’n kritieke periode vir die kleinveeboer. Daar is die verwagting van ‘n goeie lammeroes, maar dit vra telkens sorgsame bestuur.
Voorbereiding vir die lamseisoen
Lamkampies vergemaklik die bestuur en monitering van ooie en pasgebore lammers, en verbeter ook lam-oorlewing.
Ooie wat in die laat-dragtige periode doeltreffend ingeënt word, se lammers word beter teen klostridia en bloedvergiftiging beskerm vanaf geboorte totdat hulle gespeen word.
Dragtige ooie kan voor lamtyd geskeer word. Sodoende oorleef meer lammers in die kouer maande omdat die ooie dan saam met die lammers skuiling soek. Skeer met ’n winterkam (5 tot 6 mm) om drastiese energieverliese te vermy. Hierdie praktyk verseker dat die ooi se energie aan die groei van die fetus bestee word eerder as aan die regulering van liggaamstemperatuur.
Voldoende voeding is van die uiterste belang vir ooie in die laat-dragtige tydperk. Hier volg ’n voorgestelde voedingsdiagram vir die verskillende stadiums:
| Produksie-stadium* | Droë materiaal-inname per dag | Proteïen per dag | Energie (TVV/dag) |
|---|---|---|---|
| Droë diere | 1kg | 90g | 550g |
| Laat-dragtige diere (laaste 4 weke) | 1,7kg | 160g | 1 000g |
| Lakterende diere | 2,1kg | 220g | 1 360g |
| Jong groeiende diere | 1,4kg | 150g | 940g |
Lamtyd
Dit duur gemiddeld ’n uur vir ’n ooi om te lam vandat haar water gebreek het.
Tydens ’n normale geboorte is ’n lam met sy rug na bo, met kop tussen voorpoto wat na die serviks wys, in die geboortekanaal geposisioneer. Indien die lamproses langer as drie ure neem, is daar moontlik komplikasies (distokia) en die ooi sal lusteloos begin opstaan en lê.
Goeie voeding, aangepas volgens die ooi se liggaamsmassa en hoeveelheid lammers, dra by tot goeie melkproduksie. Ooie wat liggaamlik goed versorg is, kom ná speentyd weer vinniger op hitte.
’n Ooi wat ’n eenling dra, sal in die eerste week nagenoeg 2,3 tot 2,5 maal haar liggaam se energieonderhoud nodig hê, en in die derde week tot 2,8 maal. Ooie met meerlinge sal tot drie maal die genoemde energie-onderhoud nodig hê.
Vereistes tydens lamtyd
- Verleen bystand aan ooie wat swaar lam.
- Behandel nagevolge van lamproses (bv. prolaps).
- Maak seker die lam se lugweë is oop.
- Wees op die uitkyk vir moederlose/hanslammers.
- Merk die ooi indien die uier foutief is.
- Gee bies aan lammers wat in koue verswak het.
- Merk droë ooie.
Hantering van abnormale geboortes
Higiëne is belangrik wanneer hulp aan ’n ooi verleen word tydens ’n abnormale geboorte. Gebruik seep, ’n ligte ontsmettingsmiddel en handskoene, en spoel die area om die vulva skoon.
Indien die lam vassit of een been vassteek, gebruik ’n steriele koord en smeermiddel, en bind die koord om die voorpote. Trek die koord dan ligweg saam met die ooi se kontraksies. Onthou dat die ooi ook van die nageboorte ontslae moet raak. Spuit die ooi daarna met antibiotika om infeksie te voorkom.
Kort na geboorte
Met ’n normale geboorte sal ’n ooi die lam binne oomblikke begin skoonmaak. Dis belangrik om seker te maak dat die lam se lugweë oop en skoon is.
Studies het getoon dat lammers tot so gou as 10 minute ná geboorte begin drink. Dis belangrik dat die lam kolostrum inkry om passiewe immuniteit te verkry. Die skoonmaak en eerste drink van die lam is van kardinale belang vir die hegtingsproses tussen die ooi en lam. Data toon dat indien dit nie binne die eerste vier uur ná geboorte plaasvind nie, die lam verwerp kan word.
Vir oorlewing is lammers se optimale geboortegewig tussen 3,9 en 5kg vir eenlinge, en 3,2 tot 4,5kg vir tweelinge.
Die meeste ooie sal so gou as 24 uur ná geboorte weer begin wei. Soms kan dit so lank as 72 uur wees, wat toon hoe belangrik dit is dat die ooi goed gevoed word voordat sy lam. Indien ’n ooi in ’n kamp met swak weiding lam en sy ver moet stap om voeding te kry, kan sy haar lam(mers) agterlaat. In hierdie stadium is die ooi honger weens energieverlies en meer plek in haar maag ná die lammery. Kontak die NWKV vir ’n gepaste resep vir bies.
Voer van bies deur maagbuis
- ’n Rubber-maagbuis wat spesiaal vir hierdie doel gemaak is, kan verkry word. Maak seker dit is klein genoeg om nie skade aan te rig nie.
- Trek die lam se kop reguit met keel en slukpyp.
- Stoot die buis baie versigtig in die keel af, maak seker dat die buis nie in die lugweë gedruk word nie.
- As buis korrek gevoer is, sal die slukderm gebult staan.
- Maak seker die kolostrum is liggaamstemperatuur (50ml kolostrum/kg van liggaamsgewig vir drie dae).
- Moet nooit kolostrum in die mikrogolfoond ontdooi nie (die teenliggaampies gaan dood).
- Indien geen kolostrum met geboorte beskikbaar is nie, gee ’n hoë konsentraat elektroliete met geen proteïen in nie.
Vereistes vir lamoorlewing
- Geboortegewig optimaal vir ras.
- Maklike geboorteproses.
- Beskerming teen koue.
- Maksimale kontak tussen lam en ooi, veral tydens eerste 24 uur ná geboorte.
- Genoeg kolostrum/bies.
Ooie wat lammers steel
Tussen 10 en 20% van ooie begin om ’n ander ooi se lam skoon te maak of steel die lam. Dis ’n aanduiding dat hulle self naby hulle lamtyd is. In ’n intensiewe stelsel kan die pasgebore lam ook ’n ander ooi volg terwyl sy eie ma besig is om aan meerlinge geboorte te gee.
Evaluering en selektering van moederseienskappe by ooie (swak na sterk):
- Ooi vlug as persoon nader kom, en ooi kom nie terug nie.
- Ooi vlug, maar nie verder as 10m van lam nie, en kom weer terug as persoon weg is.
- Ooi vlug nie verder as 5 tot 10m nie.
- Ooi vlug, maar bly in ’n omtrek van 5m vanaf lam.
- Ooi bly by lam terwyl die persoon die lam hanteer.
Lamvrektes
Voor of tydens geboorte is distokia of ’n suurstoftekort die hoofoorsaak van lamvrektes, en in die eerste drie dae ná geboorte is verhongering of infeksie die hoofoorsaak van vrektes. Lammers sukkel in die eerste fase van hulle lewe met die regulering van hulle liggaamstemperatuur, daarom is dit belangrik dat lammers so vinnig en soveel as moontlik kolostrum inkry. Hier speel die ooi se voeding in die laat dragtige stadium ’n belangrike rol. Dit het ’n invloed op die gehalte en kwantiteit van die melk, asook die vertraging in melkvloei. Indien ’n lam swak is weens verhongering of koue, kan ’n glukosemengsel vir die lam ingespuit word (vra ’n veearts).






