Gesertifiseerde wol: Suid-Afrika se wolmark-voordeel in 2023

Die Suid-Afrikaanse wolmark het in 2023 op ’n uiters positiewe noot afgeskop met prysverhogings van 9,3% en 11%; 2,7% en 3,8%; en 2,2% en 4% (ongesertifiseerde en gesertifiseerde wol respektiewelik) op die drie veilings van Januarie. Die Cape Wools SA markaanwyser sluit op R173,81/kg vir ongesertifiseerde wol en R189,08/kg vir gesertifiseerde wol op die laaste veiling van Januarie. Hierdie prysstygings word toegeskryf aan ’n goeie vraag na veral gesertifiseerde wol van goeie kwaliteit en die Chinese ekonomie wat weer begin herstel nadat Covid-19-inperkingsregulasies verslap is.

Indien prystendense van die afgelope seisoen ontleed word, is dit baie duidelik dat alle gesertifiseerde wol sonder twyfel voorkeur in die wolmark geniet en goeie premies verkry bo ongesertifiseerde wol.

Volhoubare tendens

Die Europese Unie (EU) het reeds in 2013 ’n program bekend as Product Environmental Footprint (PEF) geloods, wat daarop gemik is om stelsels en metodieke te ontwikkel waarvolgens die omgewingsimpak van verskillende produkte omskryf kan word. PEF beoog om die ontledingsresultate van die lewensiklus en -verwagting van die onderskeie produkte (Life Cycle Assessment, of LCA) te gebruik om uiteindelik die verbruiker in staat te stel om ’n ingeligte besluit te neem met betrekking tot die aankoop van ’n produk volgens ’n gestandardiseerde stelsel wat die produk se omgewingsimpak beskryf. Die inligting sal op ’n etiket aangebring word en die inisiatief staan bekend as “Make the label count”. In ’n loodsprojek word verskillende benaderings getoets, wat etikette insluit, om die prestasie van die produk uit te beeld volgens ’n glyskaal (goed, gemiddeld of swak), of volgens die kleure van ’n verkeerslig, of volgens die produk se omgewingsvoetspoor of -impak. ’n Etiket wat die produk se eienskappe feitelik lys word ook getoets, terwyl selfoontoepassings en webtuistes ook gebruik kan word om produkeienskappe te omskryf. Ander eienskappe van produkte wat sal bydra om PEF verder te verbeter en te omskryf, is produkte se rol in mikroplastiekbesoedeling, die gebruik van fossielbrandstof in die vervaardiging van sintetiese produkte, produksiepraktyke, bioafbreekbaarheid, produkleeftyd, asook sosiale impak. Die verwagting is dat die reëls en wetgewing wat sal geld vir PEF se etiket-inisiatief in 2023 gefinaliseer sal word.

Diereregte-aktivistegroepe soos PETA (People for the Ethical Treatment of Animals) voer al feller veldtogte teen wolskaapproduksie en wol as sodanig. PETA het onlangs ’n kompetisie aangekondig, bekend as die Vegetariese Woluitdaging (Vegetarian Wool Challenge). Die wenner wat ’n bio-gebaseerde vesel kan ontwikkel wat naspeurbaar en bio-afbreekbaar is, wat ook die tekstuur van wol het en soos wol vertoon, sal prysgeld van $1 miljoen ontvang.

My mening is dat indien dit lyk soos wol, voel soos wol en die eienskappe van wol het, dan kan dit net wol wees!

Dit is dus baie duidelik dat die mark daarbuite toenemend eise gaan stel aan praktyke om wol te produseer en te verwerk. Die wolbedryf kom dus te staan voor die uitdaging om die mark te oortuig dat wol (binne aanvaarbare perke) voldoen aan die vereistes wat gestel word met betrekking tot omgewingsvriendelike produksie, dierewelsyn en sosiale verantwoordelikheid.

Om hierdie rede is die produksie van wol, asook die verwerking daarvan regdeur die totale waardeketting volgens erkende eties aanvaarbare praktyke, toenemend belangrik.

Daar word dus sterk klem gelê op die beginsel dat wol formeel gesertifiseer word aan die hand van ’n internasionaal erkende standaard en dat die wol naspeurbaar is tot by die plek van oorsprong.

Volhoubare voordeel

Tans is net meer as 40% van die SA skeersel reeds geoudit en is SA reeds die grootste voorsiener van gesertifiseerde wol in die wêreld.

Wat die res van die seisoen aanbetref, is vooruitsigte positief, alhoewel omstandighede in die wêreld (insluitend die Oekraïnse oorlog) steeds baie onseker is. Deesdae verander die situasie sommer oornag, nie net internasionaal nie, maar ook plaaslik. Bek-en-klouseeruitbrekings lê nog vars in die geheue en is nog geensins verby nie. Entstoftekorte en biosekuriteitsaangeleenthede bly steeds wesenlike bedreigings. Skakel met jou makelaar en ander kundiges en bly op hoogte van gebeure plaaslik en oorsee.

Dit is so dat daar nie veel aan die meeste gebeurlikhede gedoen kan word nie, maar ’n besluit wat op akkurate inligting gebaseer is, is altyd beter. – Leon de Beer