Die eerste drie tot vier maande van ’n lam se leeftyd is baie belangrik ten opsigte van leeftydproduksie, dit sluit reproduksie, wolproduksie en karkasgroei in. Indien lammers en ooie gedurende hierdie tyd afgeskeep word, kan hulle nie volgens hulle genetiese potensiaal presteer nie. Die kan gevolg word deur onvoldoende kuddegroei en winsgewendheid
Voor speen kan daar op die volgende belangrike aspekte gefokus word:
- lammers wat die oorgang van suip na self vreet suksesvol oorbrug
- ooie wat nie oormatig kondisie verloor nie
- die identifisering van ooie wat lammers verloor het
Ooie en lammers
Gedurende middel- tot laat laktasie kla boere dikwels dat die lammers tot in hierdie stadium goed gegroei het, maar dat hulle nou ewe skielik begin agteruitgaan. Waarom sou dit wees? Melkproduksie bereik ’n piek op ongeveer drie tot vier weke ná lam, waarna dit afneem. Die lam moet nou al sterk begin vreet. Reeds op 21 dae begin ’n lammetjie peusel, en nie lank daarna nie kompeteer die lam baie sterk met die ooi om kos.
Lakterende ooie moet vir ten minste twee maande nadat hulle gelam het steeds goeie voeding kry om hulself te onderhou en nie kondisie te verloor nie, asook om nog melk te produseer vir die lam se behoeftes. Ooie self sal meer wol gedurende die betrokke seisoen produseer, asook beter kwaliteit wol, indien goeie voeding volgehou word.
Die hoeveelheid en gehalte van die weiding wat gedurende laktasie beskikbaar is, is die hooffaktor wat die lamgroeitempo en lamoorlewing bepaal. Die teikenkondisiepunt van ooie in hierdie stadium moet 3 tot 3,5 wees, en ’n ooi moet nie meer as 10% van haar liggaamsmassa verloor nie.
Lammers en kruipvoeding
Die twee hooffaktore wat die groei van sogende lammers op weiding beperk, is die onvermoë van die lam se rumen om die weiding doeltreffend te benut, en die lam se relatief klein rumengrootte wanneer ’n weiding met ’n hoë voginhoud bewei word.
Kruipvoeding dra by tot winsgewende skaapboerdery en verlaag speenskok.
Kruipvoerkrippe of kruipvoerhokke kan gebruik word, en indien dit nie moontlik is nie, voorsien ten minste genoeg spasie sodat ooi en lam genoeg vreetspasie saam het. Kruipvoeding leer die lammetjie van peuselstadium af vreet en dit hou die groot voordeel in dat dit speenskok verlaag omdat die lam gewoond is aan byvoeding.
Die toekomstige reproduksiepotensiaal van ’n ooilam wie se moeder goeie voeding vanaf vier weke voor lam tot speen ontvang het – asook die ooilam self tot op 14 weke ouderdom, maar verkieslik tot geslagsrypheid – sal maksimaal ontwikkel. Binne die eerste 30 dae van ’n lam se leeftyd word die wolfollikelontwikkeling en leeftydwolproduksie van lammers bepaal. Spiersel-vermeerdering by lammers vind tot op drie maande ouderdom plaas, en spiergroei tot op ongeveer nege maande.
Die maksimering van hierdie bogenoemde eienskappe verhoog die karkaswaarde van slaglammers en die uiteindelike volwasse grootte van jong ramme asook jong ooie, wat in die geval van ooie verhoogde leeftydproduksie en -reproduksie tot gevolg het.
Lamgesondheid
Lammers is baie meer vatbaar as volwasse diere vir die negatiewe effek van inwendige parasiete. Hou die lammers dop vir veral simptome soos maagwerkings en vermaering.
Inenting van ooie voor lam speel ook ’n groot rol in die sukses van die lammeroes tot en met speen. Raadpleeg u veearts vir ’n volledige inentings- en doseerprogram.
Volgens wetgewing in Suid-Afrika moet lammers op een maand ouderdom met die produsent se amptelike tatoeëermerk in die oor gemerk word. Sorg dat dit deeglik, leesbaar en deur opgeleide personeel gedoen word.
Stertjies kan afgesit word vanaf een week tot ses weke ouderdom en nie later nie. Indien ramlammers gekastreer word, kan dit vanaf een week en voor ses weke ouderdom gedoen word.
Die korrekte protokolle soos voorgeskryf deur die Livestock Welfare Coordinating Committee (LWCC) vir beide kastrasie en sterte afsit moet gevolg word.
Om op te som:
- Spaarveld, goeie weidings of aangeplante weidings word aanbeveel, veral wanneer daar in die droë seisoen gelam word.
- Kruipvoer is een van die belangrikste hulpmiddels vir vinnige lamgroei. Dit is goedkoper om die lam direk ekstra kos te gee as via die ooi, as gevolg van die goeie voeromsetting van lammers.
- Sorg vir skuiling, koelte en skoon drinkwater.
- Kyk deurlopend dat vreetspasie vir beide ooie en lammers voldoende is namate die lammers groei en groter word.
- Sorg vir deurlopende toesig en bestuur.
- Hou vol met predasiebestuur.
- Hierdie aspekte dra alles by tot die verlaging van speenskok vir die lam en bied die ooie die beste geleentheid om te herstel vir die volgende dekseisoen.
Speendag
Daar kan op speendag op die volgende gefokus word:
- toesig oor gespeende lammers
- identifisering van vervangingsooie
- uitklas van ooie wat nie ’n lam gespeen het nie, asook ou ooie en ooie met uierprobleme
Speenouderdom en seleksie
- Die teikenkondisie van die ooie tydens speen moet minstens 2,5 tot 2,7 wees, terwyl die lammers tydens speen op ongeveer 100 dae minstens 45%, maar verkieslik 50%, van die volwasse ooi se massa moet weeg.
- Sorg dat ooilammers altyd die beste voeding kry tot en met paartyd, dit bly ’n goeie belegging. Leeftydproduksievermoë van ooilammers word hierdeur verhoog. Ooilammers wat voedingstres beleef, sal minder lammers in hul leeftyd produseer.
- Weeg alle lammers by speen.
- Skei ooitjies, hameltjies en rammetjies dadelik.
- Sorg dat ooilammers altyd die beste voeding kry tot en met paarouderdom.
- Pas onmiddellik seleksie van ooilammers vir vervangingsooie toe tydens speen. Gooi die ligste 5% tot 10%, asook dié met konformasiefoute uit. Wees versigtig om nie ooilammers wat een van ’n tweeling is uit te skot in hierdie proses nie. Daarom is dit belangrik dat tweelinge by geboorte geïdentifiseer moet word, anders selekteer ons teen reproduksie.
- Ent lammers in vir bloutong, bloednier en ensoötiese aborsie in oorleg met die veearts.
- Pas die ontwurmingsprogram sorgvuldig toe.
Speenstelsels
Om speenskok te verminder kan van die volgende speenstelsel gebruik gemaak word:
- Ruil ooie en lammers om – die een trop se lammers word met ’n ander trop se lammers omgeruil.
- Speen ooie weg van lammers – die lammers bly agter in die kamp wat aan hulle bekend is, en die ooie word weggeneem.
- Speen saam met ouer diere – die lammers word saam met ouer, ervare diere in ’n kamp geplaas sodat die ouer diere hulle aan die speenkampe kan bekendstel.
Lamtyd is die wolboer se oestyd! Goeie beplanning, bestuur en stelsels vanaf lamtyd tot speen is baie belangrik. So min moontlik lammers moet vrek, en speenskok moet so laag moontlik gehou word. Die vrugte word gepluk in toekomstige produksie en winsgewendheid van die skaapkudde. – Annelize Smit van Niekerk






