Daar is skeeropleiding, en dan is daar skeerderopleiding. Suid-Afrika se skeerders kan kers vashou met die beste in die wêreld, maar wie het hulle geleer? En wie het die instrukteurs geleer? Die opleiding van skeerinstrukteurs is ’n belangrike faset van die Nasionale Wolwekersvereniging (NWKV) se strategie om voortdurend skeerders van wêreldgehalte op te lei.
Volgens Izak Klopper, bestuurder van skeeropleiding by die NWKV, is dit belangrik om te besef dat ons in Suid-Afrika nie op ’n eiland leef nie. Dit is noodsaaklik dat ons skeerders gereeld aan internasionale standaarde blootgestel word.
Blootstelling aan wêreldstandaarde
“Dit is vir hierdie rede,” verduidelik hy, “dat ons reeds in 1999 begin het met ’n skeerder-instrukteurskursus waar plaaslike instrukteurs deur wêreldleiers opgelei word. Van 1999 tot 2024 het Peter Black, destyds in beheer van skeeropleiding in Wes-Australië, elke tweede jaar skeerinstrukteurs hier in Suid-Afrika kom oplei. Van die top 15 tot 20 plaaslike skeerders is dan geïdentifiseer en genooi vir ’n week van intensiewe instrukteursopleiding.”
Black was ’n topskeerder wat groot getalle skape per dag kon skeer. Hy het ’n baie goeie tegniek ontwikkel om groot getalle skape veilig en doeltreffend te skeer. Sy tegniek was op die skeerpatroon van Godfrey Bowen van Nieu-Seeland gebaseer.
“ ’n Groot uitdaging, toe ons destyds begin het, was dat baie van ons skeerders ongeletterd was. Ons moes dus seker maak dat ons skeeropleiding gestandaardiseer is. Dit was belangrik dat dieselfde boodskap deur al die instrukteurs oorgedra word. Die kern van die opleiding berus op die skeertegniek en skeerpatroon wat deur Bowen ontwikkel en deur Black verfyn is. Die mikpunt is om vir die skeerder die kortste en mees doeltreffende pad te wys om ‘n skaap veilig te skeer.”
Black is reeds in sy sewentigs en sy gesondheid is besig om agteruit te gaan. Hy het daarom vir Steve Thompson genomineer om sy rol oor te neem. Thompson, tesame met Paul Hicks, beter bekend as Pope, het op 26 Junie in Suid-Afrika aangekom. Die kursus het van 29 Junie tot 3 Julie by Grootfontein Landboukollege plaasgevind.
Oorsig van die instrukteurskursus
’n Mikpunt met die instrukteursopleiding, verduidelik Klopper, is die identifisering van jong talent wat die NWKV by skeeropleiding kan betrek. Daar is tans twee instrukteurs wat voltyds in diens van die NWKV is, met nog twee wat op ‘n deeltydse basis diens doen. Afgesien van hierdie vier, was daar vanjaar nog tien aspirant-instrukteurs wat die kursus voltooi het.
Die doelwit is om goeie skeerders te bemagtig om ‘n instrukteur te kan word. Om dit te kan doen, is kursusgangers die geleentheid gegee om ‘n skaap te skeer en te verduidelik presies wat hy doen en waarom. Aan die ander kant is hulle ook die geleentheid gegee om hulle mede-kursusgangers te beoordeel aan die hand van die evaluasievorm wat instrukteurs in die veld gebruik om skeerders te beoordeel. Daarvolgens kan moontlike swakpunte in die tegniek ook geïdentifiseer word.
Afgesien van die fisiese skeertegniek, is toerusting ’n baie belangrike aspek van skeeropleiding. Sonder goed-onderhoue toerusting is dit onmoontlik om goeie gehalte werk te lewer. Hicks het ‘n lesing oor die onderhou van toerusting aangebied, van die korrekte slypprosedure tot die behoorlike voorbereiding van kamme vir spesifieke skape en sekere tye van die dag.
Omdat skeer ’n fisies-uitdagende aktiwiteit is, is die skeerders ook gewys hoe om in soggens op te warm en saans weer af te warm. Daarmee saam is die inneem van genoeg vloeistof en voedingstowwe beklemtoon sodat die korrekte mineralebalans in die liggaam gehandhaaf kan word, ten spyte van die baie sweet tydens skeer. – Izak Hofmeyr, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Izak Klopper by 082 446 2162.






