Persverklaring: NWKV stel Dan Kriek as hoofbestuurder aan

26 Januarie 2024

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), een van die land se oudste kommoditeitsorganisasies, is bevoorreg om die aanstelling van Dan Kriek as nuwe hoofbestuurder aan te kondig, effektief van 1 Mei 2024.

Kriek is die voormalige president van Agri SA, het op president Cyril Ramaphosa se grondhervormingspaneel gedien, en dien steeds op die raad van die Universiteit van die Vrystaat.

Die NWKV verteenwoordig wolboere in Suid-Afrika. Een van die organisasie se hoofdoelwitte is volhoubare produksiepraktyke met ’n sterk fokus op dierewelsyn, omgewingskwessies, en sosiale verantwoordelikhede wat met internasionale vereistes strook, ter ondersteuning van beter marktoegang vir produsente.

Die uittredende hoofbestuurder, Leon de Beer, tree einde April af ná 20 jaar se diens. Hy het in September 2003 by die NWKV aangesluit.

De Beer sê hy is trots daarop dat ’n ervare persoon soos Kriek sy rol in die organisasie gaan oorneem.

Tydens sy lang en suskesvolle loopbaan was De Beer van onskatbare waarde vir die NWKV en die organisasie se bestuur bedank hom opreg dat hy sy landboukennis mildelik gedeel het, asook vir sy toewyding en lojaliteit. Die bestuur wens hom ‘n vreedsame en voorspoedige aftrede toe.

In reaksie op sy aanstelling sê Kriek hy is bevoorreg om na sy wortels terug te keer, omdat hy as nagraadse landboustudent in kleinveekunde gespesialiseer het. “Die geleentheid om met Suid-Afrikaanse wolprodusente te werk is ‘n groot voorreg,” sê Kriek. “Ek sien uit daarna om met alle rolspelers, die regering inkluis, saam te werk om groter voorspoed vir alle wolboere te verseker.”

“Wolprodusente speel ’n groot rol in die suksesverhaal van verhoogde uitvoerverdienste vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die Suid-Afrikaanse wolbedryf se volhoubaarheidsstatus maak die bedryf uniek.  Suid-Afrikaanse wolboere is die grootste verskaffers van volhoubaar-gesertifiseerde wol in die wêreld, en is uitstekend geposisioneer in ’n verbruikerswêreld wat op sosiale verantwoordelikheid en omgewingsbewustheid fokus.  Hierdie kompeterende voordeel moet verder uitgebou en versterk word”.

Kriek sê ook dat daar eenheid in die bedryf is, en saam vorm kommersiële en kommunale wolboere ’n gedugte span.  “Die groeipotensiaal van die kommunale gebiede in die Oos-Kaap word lank reeds raakgesien, maar die verwesenliking daarvan gaan ’n spanpoging van alle rolspelers verg,” sê hy.  “Deur infrastruktuur te skep en tegnologie te gebruik kan ons ’n sosio-ekonomiese omwenteling in die lewens van kommunale wolboere en landelike gemeenskappe teweegbring.”

Die NWKV is vol vertroue dat Kriek, met sy omvattende ondervinding, die organisasie en alle Suid-Afrikaanse wolprodusente suksesvol in ’n nuwe era sal lei.
 
Uitgereik deur: NWKV Kommunikasie

Verdere navrae: Billy van Zyl, voorsitter, NWKV 082 378 0268 / montaguefarm@vodamail.co.za