Boerdery, veral wolproduksie, word gekenmerk aan talle uitdagings waarvan heelwat van so ’n aard is, dat ’n mens self min beheer daaroor het. Dit is maklik om moedeloos en negatief te raak. Die een ding waaroor jy wel beheer het, is hoe jy op hierdie uitdagings reageer. Jy kan kies of jy negatief gaan reageer, of dit as uitdagings beskou wat betekenis aan jou lewenspad gee.
Dit was die boodskap van Herman Archer, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Vrystaat, gedurende ’n NWKV-streeksvergadering wat by die Eeram-boerevereniging naby Harrismith gehou is. “As jy moedeloos raak,” het hy gesê, “gaan na jou skape toe en kyk na daardie wonderlike diere wat in staat is om ’n produk soos wol, die beste vesel wat ons het, te vervaardig deur gras te vreet. Boerdery was nog altyd vol uitdagings. Hoe jy dit hanteer – daaroor het jy beheer.”
Vyf sprekers het tydens die dag inligting gedeel, waarna ’n praktiese demonstrasie oor die fynere punte van wolklas gevolg het. Die tema was deurgaans om te fokus op die dinge waaroor jy as produsent beheer het.
Van voeding tot wolgehalte
Ashley Grimsell van Voermol Voere was eerste aan die beurt en het innovasie in skaapvoeding bespreek. Sy is gevolg deur dr Paul Reynolds, ’n veearts van Warden, wat bestuursriglyne vir algemene skaapgesondheid bespreek het. Mike van den Berg van BKB het daarna ’n paar somme gemaak om die waarde van ’n hamelkomponent in ’n skaapboerdery te illustreer, waarna Annelize Smit van Niekerk, produksie-adviseur by die NWKV, die internasionale wolmark in oënskou geneem het en knelpunte van wolklassering uitgelig het.
Hoewel die Suid-Afrikaanse wolskeersel slegs 2% van die wêreld se wol uitmaak, en net 12% van die Australiese skeersel, is Suid-Afrika in die unieke posisie dat 47% van ons skeersel volhoubaar geproduseer word, teenoor Australië se 6%. “Wat dit beteken, is dat ons wolprodusente aan ’n internasionale standaard voldoen. Dit maak ons die tweede-grootste wolprodusent wat gesertifiseerde volhoubaarheid betref. Net die Falkland-eilande lewer ’n groter persentasie gesertifiseerde wol, naamlik 94%.”
Meer as 80% van die Suid-Afrikaanse skeersel gaan na China, terwyl kleiner hoeveelhede na die Tsjeggiese Republiek, Bulgarye, Indië en Italië gaan. “Verbruikers van wolprodukte,” het sy verduidelik, “is toenemend gesteld op die manier waarop wol geproduseer word, en dring daarop aan dat dit eties en volhoubaar geskied. Suid-Afrikaanse wolprodusente het grootliks aan hierdie vereistes gehoor gegee. Verder word deurgaans beding om nuwe markte vir Suid-Afrikaanse wol te ontsluit.”
Dit begin op die plaas
Op plaasvlak, het sy beklemtoon, is daar baie wat ’n produsent kan doen om die waarde van sy eie skeersel te verhoog. Die meeste van hierdie stappe is eenvoudig en algemeen bekend, maar word nietemin dikwels misgekyk.
“As ons na maatreëls in die skeerhok kyk, is daar dinge wat jy kan verander en wat jou nie ’n sent gaan kos nie, maar ’n groot invloed het op die gehalte van die wol wat jy mark toe stuur. Een van die belangrikste faktore is wolbesoedeling. Elementêre voorbeelde is baaltou in die wol of as jy sweetwol in jou vaglyne los.”
’n Ander aspek wat ook weerstand ontlok, is as jy ’n baal sou verdeel (splitbale) en voersakke gebruik om dit te doen. Dit is wenslik om eerder velle bruinpapier hiervoor te gebruik, nie voersakke nie. Die bruinpapier is vrylik by wolmakelaars beskikbaar.
“Daar rus ’n groot onus op ons as wolbedryf om nie net die rouproduk te bemark nie, maar ook die eindproduk. Hiervan is daar talle mooi voorbeelde van mense wat verby die uitdagings gekyk het en ’n geleentheid gesien het om self hul wol te verwerk en ’n mark vir hul produkte te ontwikkel.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel 051 447 3023 of besoek www.nwga.co.za





