Boerdery is net ’n som

Estimated reading time: 9 minutes

Gesonde balansstate en hoë netto inkomste beteken nie noodwendig dat die kontantvloei van ’n boerdery gesond is nie. Die betaling van rente en skuldpaaiemente kan ’n boerdery se besteebare inkomste onder druk plaas en produsente se lewensbestaan beïnvloed, sê Isak Staats, algemene bestuurder van wol en sybokhaar by BKB.

Produsente kan egter met klein bestuursaanpassings hul netto boerdery-inkomste (NBI) aansienlik verhoog. Net so kan die faktore wat buite die produsent se beheer is, soos ’n styging in die wol- of vleispryse, die produsent se situasie op die plaas verbeter.

Tipiese Karoo-boerdery

Staats verduidelik die situasie aan die hand van ’n tipiese Karoo-boerdery. Koos en sy vrou, Brenda, boer met 3 000 Merino-ooie en bemark 2 460 diere (93 441kg vleis) en 16 349kg wol per jaar. Tabel 1 bied ’n opsomming van die boerdery se kuddestatistieke. In hierdie voorbeeld is dit ’n suiwer skaapboerdery met geen beeste, Angora- of Boerbokke soos algemeen die geval op baie Karoo-plase is nie.

Tabel 1: Kuddestatistieke van Koos en Brenda se Merinoboerdery.

Getal teeldiere3 000
Ooie dood50
Jaarlikse oorlewing96%
Lammers gespeen2 558
Speenpersentasie85,3%
Bemarkingspersentasie82%
Getal diere bemark2 460
Vleis geproduseer93 441kg
VleisprysR36,40/kg
Wol geproduseer16 349kg
WolprysR102,24/kg

Koos is, nes enige ander Merinoprodusent, mal oor wol. By ramveilings kyk hy en sy skaap- en wolbeampte heel eerste na die ramme se wol, maar dit is nie waarop Koos behoort te fokus nie. Tabel 2 illustreer die bruto inkomste van Koos se boerdery, en daaruit is dit duidelik dat wol net ’n derde van die inkomste uitmaak. Die boerdery se vleisproduksie sorg vir 67% van die bruto inkomste en is dus belangriker as die wol.

Tabel 2: Die boerdery se bruto inkomste.

Bruto produksiewaardeTotale bruto inkomsteInkomste per ooiWol en vleis se verhouding tot die totale inkomste
WolR1 671 509R557,1733%
LewendehaweR3 401 003R1 133,6767%
TotaalR5 072 512R1 690,84 

Volgens Staats het talle produsente nog nie besef dat hul Merinoboerdery vandag in der waarheid ’n vleisbesigheid is, eerder as ’n wolbesigheid soos in die verlede nie. Hoewel wol steeds waardevol is en nie verwyder hoef te word vir vleis nie, fokus die besigheid oor die algemeen op vleisproduksie.

“Dit is lekker om by ’n ramveiling na die mooi wol te kyk, maar dit is belangrik om vrae te vra oor dit wat vir ons geld in die sak bring. Is die verhouding tussen jou vleis- en wolinkomste reg?”

Boerdery-uitgawes

Tabel 3 toon die direkte, indirekte en oorhoofse uitgawes, sowel as die bruto marge en NBI van Koos se boerdery. Die direkte uitgawes maak 31,4% van die totale uitgawes uit. Staats sê dit is belangrik om te verstaan dat die direkte uitgawes ’n koste is wat jy aan elke dier op die plaas kan koppel. Hoe meer diere, hoe hoër is die totale direkte uitgawes. Die vernaamste direkte uitgawes is voer wat ’n derde tot meer as die helfte van die totale koste uitmaak, gevolg deur veeartseny- en kontrakskeerdienste.

Tabel 3: Die uitgawes, bruto marge en NBI van die boerdery.

OpsommingTotaalPer ooiPersentasie van omset
InkomsteR5 072 512R1 690,84 
Direkte uitgawesR1 591 877R530,6331,4%
Bruto margeR3 480 635R1 160,2068,6%
Indirekte uitgawesR1 064 763R354,9221%
Oorhoofse uitgawesR426 000R1428,4%
NBIR1 989 872R663,2939,2%

Indirekte uitgawes ontstaan as gevolg van die skape op die plaas en maak 21% van die totale uitgawes uit. Die totale direkte uitgawes sal nie vermeerder indien meer skape aangehou word nie. Arbeid en brandstof maak saam sowat twee derdes van die totale direkte koste uit, met arbeid net meer as ’n derde van die direkte uitgawes.

Die oorhoofse uitgawes is 8,4% van die totale koste waarvan versekering en elektrisiteit die grootste bydraes lewer. Hieraan kan jy niks doen nie.

Wanneer na Tabel 3 gekyk word, lyk Koos se boerdery op die oog af na ’n suksesvolle besigheid met ’n goeie NBI. Volgens Staats is ’n NBI van 39,2% (bykans R2 miljoen) baie goed en is daar ’n rede hoekom dit so hoog moet wees. Boerderye dra baie meer risiko’s as ander besighede – veral risiko’s waaroor hulle geen beheer het nie.

Die boerdery se balansstaat (Tabel 4) lyk ook goed: altesaam R41,9 miljoen aan bates en R9,5 miljoen aan laste, waarvan R7,5 miljoen grondskuld insluit. Dit lewer ’n eienaarsbelang van R32,4 miljoen op, wat op die oog af indrukwekkend is. “Koos is eintlik ’n multimiljoenêr,” sê Staats.

Tabel 4: Die balansstaat van die boerdery.

Bates
VeeR5 400 000
Los batesR500 000
GrondR36 000 000
Totale batesR41 900 000
Laste
HuurkopeR500 000
Grondlenings (1 200ha)R7 500 000
Oortrokke rekeningeR1 500 000
Totale lasteR9 500 000
EienaarsbelangR32 400 000

Die oorhoofse prentjie kan egter misleidend wees. Tabel 5 wys dat Koos en Brenda eintlik minder as R250 000 per jaar het om van te leef, omdat Koos jaarliks op sy skuld ’n rentelas van R1,1 miljoen het en R600 000 aan lenings moet terugbetaal. “Koos is wel ’n multimiljoenêr, maar het nie kontant of geld in die bank nie. ’n Produsent kan nie meer van R249 872 lewe nie. Die lewe op die platteland het duur geword en goeie hospitale en skole is baie ver.”

Tabel 5: Die ware prentjie van die boerdery.

 TotaalRente
Skuld
HuurkopeR500 000R60 000
GrondleningsR7 500 000R900 000
Oortrokke rekeningR1 500 000R180 000
Totale skuldR 9 500 000R1 140 000
Kapitaaldelging
GrondleningsR100 000 
Oortrokke rekeningR500 000 
Totale kapitaaldelgingR600 000 
Wins beskikbaar vir eie gebruik
Huidige scenarioR249 872
As die vleisprys met R10/kg styg (+R900 000)  R1 149 872
As die wolprys met R10/kg styg (+R326 980)  R576 852

Lig in die tonnel

Die situasie kan egter vinnig verander wanneer faktore buite die produsent se beheer positief verander. Tabel 5 toon ook dat Koos en Brenda se besteebare inkomste onderskeidelik met R900 000 en meer as R300 000 kan styg as die vleis- en wolprys met R10/kg styg. Dit bied lig in die tonnel.

Net so kan Koos en Brenda se besteebare inkomste aansienlik toeneem as hulle klein aanpassings in hul bestuur maak. Tabel 6 wys dat Koos en Brenda hul besteebare inkomste met R400 000 tot R650 000 kan verhoog as hulle hul bestuur aanpas om meer lammers te speen en meer wol te skeer.

Tabel 6: Verbetering van bestuur.

KriteriaTansNuwe
Aantal ooie3 0003 000
Ooigewig58kg58kg
Lamgewig, swaarder-4kg1kg
Kg wol, meer0kg0,2kg
Dragtigheid90%95%
Aantal meerlinge20%25%
Ooie dragtig2 7002 850
VleisprysR36,40/kgR39/kg
WolprysR105/kgR105/kg
Speenpersentasie100%105%
Lammers verkoop70%70%
Lammers gebore3 2403 563
Lammers gespeen3 0003 150
Inkomste: Verskil per dierR135,05
Inkomste: Verskil in totaalR405 150,24

’n Ander boerdery-scenario met 2 075 teeldiere wys dat ‘n speenpersentasieverbetering van 80 tot 100%, die NBI van R232/ha tot R351/ha verhoog, terwyl die totale besteebare inkomste van R479 495 tot R727 532 styg. Dit is ’n verskil van R248 037 per jaar deur net een aspek van die boerdery te verbeter.

Selekteer vir geld

Koos moet dus tot die besef kom dat sy boerdery eintlik ’n vleisbesigheid is en dat die wol slegs ’n bonus is. Hy moet wegdoen met gemiddeldes, presisieboerdery toepas en per hektaar boer. “Ons sit vandag vir die eerste keer in geskiedenis met gereedskap om presisieboerdery op skape toe te pas. Ons kan nou selekteer vir wat ons wil hê. Moet dus nie vir beter onderlyne, byvoorbeeld skoon pense, selekteer as jy meer wol wil hê nie.”

Boerdery word nie goedkoper nie en pryse sal voortdurend styg. Bestuurbare faktore moet dus beter bestuur word. As ons nie meet nie, gaan ons nie eet nie. Met beskikbare toerusting kan jy nou die doeltreffendste diere op jou plaas identifiseer en, vir die eerste keer, met geld as oogmerk selekteer.

Op een van die plase waar die toerusting gebruik is, het die gemiddelde speengewigte van die spesifieke groep ooie tussen 55kg per ooi in die top 20% en 39kg per ooi in die onderste 20% gewissel. Dit is ’n verskil van 16kg/ooi, oftewel 16 000kg/1 000 ooie.

Die resultate is op dieselfde plaas en onder dieselfde bestuur behaal. Die gemiddelde inkomste (wol en vleis) van die top 20% ooie in die groep het R2 083,97 per ooi beloop, terwyl dié van die onderste 20% R842,12 per ooi was. Dit is ’n verskil van R1 241,85 per ooi, oftewel R1,24 miljoen per 1 000 ooie.

Vrugbaarheid is een van die belangrikste kriteria waarvoor geselekteer moet word om ’n kudde se doeltreffendheid te verhoog. “Wees egter versigtig om nie net te selekteer vir ’n ooi se vermoë om eierselle af te skei nie, maar ook vir dit waarvoor jy betaal word, naamlik vleis.”

’n Tweeling is nie noodwendig beter as ’n enkeling nie, want ’n goeie eenlinglam kan beter wees as swak tweelinglammers. Om swak meerlinge groot te maak is duur, aangesien hulle dikwels passasiers op die plaas is en geld steel.

Koste, skuld en vleisproduksie

Skaapprodusente spaar dikwels goed, maar hulle moet oppas dat dit nie hul boerderye benadeel nie. As jou uitgawes meer as 60% van jou omset is, is dit te veel en is jy besig om geld te mors. As dit minder as 50% van jou omset is, is jy besig om jouself bankrot te spaar en geld van jou boerdery te steel.

“Jy kan skuld maak (geld leen), maar dit moenie meer wees as wat jy kan terugbetaal nie. Jou totale skuld moenie meer as jou omset wees nie, met ‘n maksimum van 120% van jou omset.” ’n Goeie duimreël is dat jou woltjek sowat 25% van jou omset moet kan dek om die skuldpaaiemente te betaal.

Produsente vra dikwels hoeveel vleis hulle moet produseer. “Jy moet probeer om 1kg vleis/jaar/1kg ooi te produseer. Dit kan wissel van 0,8kg in die Karoo tot 1,2kg in die saaigebiede. Indien jy minder as dit verkoop, dui dit op ’n probleem.”

Staats waarsku teen die tendens om in saaigebiede van vee ontslae te raak. Skape in die Suid-Kaap kan byvoorbeeld peulgewasse benut, wat belangrik is in ’n wisselboustelsel. “Vee is ’n welvaartstoorplek; ’n manier om welvaart te bou.”

Bly positief

“Boerdery is nie maklik nie, maar ons moet daarteen waak om mekaar negatief te beïnvloed. Moenie oor goed praat waarvan jy min weet of nie veel aan kan doen nie. Praat eerder oor dinge wat jou op die plaas hou en wat jy kan bestuur.

“Ons moet oppas om nie om die braaivleisvuur te staan en kla oor hoe sleg dit gaan en dan daarvolgens besluit wat wins genereer en wat nie geld maak nie. Dit is dan wanneer jy verkeerde besluite neem,” sê Staats. Hy raai produsente aan om kundiges om hulp te nader. “Kundiges wat van buite na jou boerdery kyk, kan jou teen verkeerde raad waarsku.” – Hugo Lochner, Plaas Media

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Isak Staats by isak.staats@bkb.co.za