Die merkwaardige verhaal van Rico, die Merino-ram wat vir meer as ’n halfdekade stoksielalleen in die ongenaakbare Moordenaarskaroo onder uiters moeilike omstandighede oorleef het, het die harte van talle mense aangegryp. Sy verhaal gaan oor veel meer as net ’n dapper skaap met uitsonderlike uithouvermoë en ’n enorme wolvag. Dit is ’n verhaal van oorlewing, veerkragtigheid en ’n gelukkige einde, maar veral van ’n nalatenskap wat veel verder strek as Rico self.
Danksy die stigting van die Rico-beursfonds skep sy verhaal nou nuwe geleenthede en maak dit deure oop wat ’n beter toekoms vir verdienstelike jongmense kan bou. Die beursfonds is ongetwyfeld een van die groot hoogtepunte van hierdie inspirerende verhaal.
Stigting van die beursfonds
Dan Kriek, algemene bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), sê die organisasie het met die Universiteit van die Vrystaat (UFS) hande gevat om Rico se verhaal na ’n volgende vlak te neem. Die Rico-beursfonds is onlangs in Bloemfontein deur die NWKV en die UFS se Fakulteit Landbou bekendgestel, en bied aan die jong leiers van môre ’n helpende hand om hul kennis uit te brei, hul horisonne te verbreed en hul plek binne die landboubedryf te vestig.
Kriek sê dit is ’n besondere voorreg om deel van Rico se verhaal te wees en dat dit een van die hoogtepunte van sy loopbaan in georganiseerde landbou is. Die simboliek wat uit die verhaal spruit, gryp mense aan. Hierdie verhaal spreek boekdele oor veerkragtigheid en om, ondanks uitdagings, steeds vorentoe te beur terwyl daar ook iets aan ander teruggegee word. Hy meen dit is iets wat eie is aan die produsente en landboubedryf van Suid-Afrika. Rico se verhaal vind daarom op verskeie vlakke aanklank by die NWKV.
Die organisasie vier vanjaar sy eeufees en, net soos Rico, was die wolbedryf se pad nie altyd maklik nie. Te midde van moeilike tye, taai oorlewing, en sterk en ingrypende veranderinge, bly die bedryf se eie storie een van oorwinning, groei, vernuwing en talle hoogtepunte.

’n Toonbeeld van uithouvermoë
Die verhaal van Rico die skaap wat tussen Laingsburg en Sutherland gevind is, is reeds wyd bekend. Die storie het onder die NWKV se aandag gekom in die aanloop tot die beplanning van hul algemene jaarvergadering en eeufeesvieringe.
Kriek het ’n oproep van Marietjie Brink ontvang, wat hom vertel het dat Rico langs ’n lyndraad ontdek is nadat hy vermoedelik vir jare onder uitmergelende omstandighede sonder enige menslike versorging oorleef het. Oorgelaat aan die genade van die natuur, moes hy sy eie water en weiding opspoor, en het hy van droogte tot droogte oorleef. Hy moes boonop uiterste koue en ongediertes trotseer.
Rico is klaarblyklik as ’n jong lam van sy trop geskei en het toe weggeraak, want toe hy teruggevind is, was hy op die oog af nog nooit geskeer nie. “Dit is ’n ongelooflike wonderwerk dat hy oorleef het en ook nooit verkeerd geval het nie. As produsente weet ons dat ’n skaap wat langer as ’n jaar nie geskeer is nie, kan vrek as hy verkeerd val. Dit was egter nie die geval met Rico nie,” sê Kriek. Marietjie en haar man, Niel, het Rico na hul plaas geneem, waar hulle hom versorg en geskeer het.
Sy verhaal eindig egter nie hier nie. Rico het kort daarna ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel toe hy ’n indrukwekkende wolvag van 30,7kg gelewer het. Volgens Kriek was daar, ná sowat sewe jaar se wolgroei, dele van die vag wat tot 50cm lank was. Rico se wolvag is sover bekend die tweede-swaarste vag ter wêreld, naas dié van ’n Merino-skaap genaamd Chris uit Australië, wat in 2015 gevind is. Sy vag het 41,1kg geweeg.
Nog ’n skaap wat wêreldwyd bekendheid vir sy buitengewone wolvag verwerf het, is Shrek. Hy het ook weggeraak en is in 2004 in Nieu-Seeland gevind. Shrek se vag het 27kg geweeg. Rico se verhaal plaas hom dus in die geselskap van die wêreld se bekendste en dapperste Merino’s. Daarmee saam skep sy verhaal nuwe hoop, wat hom uniek maak.
Nuwe horisonne

Die NWKV het besluit om Rico se verhaal tydens sy kongres in Junie vanjaar by Mentorskraal in Jeffreysbaai te vertel. Die historiese kongres het met die organisasie se 100ste bestaansjaar saamgeval en het gefokus op ontwikkeling, regeneratiewe landbou en volhoubaarheid in die wolbedryf.
As deel van die vieringe het Gerber & Co, ’n bekende wolverwerker in die Paarl, van Rico se wol gebruik om ’n pragtige handgeweefde muurbehangsel te vervaardig. Die kunswerk is tydens die kongres uitgestal. Rico se buitengewone verhaal is ook gevier met ’n spesiale liedjie en musiekvideo wat tydens die kongres onthul is.
Volgens Kriek wou die Brinks egter nie hê Rico se verhaal moes bloot by ’n rekord eindig nie. Hulle wou hê die skaap se nalatenskap moet ’n positiewe invloed op ander se lewens uitoefen. Daarom het hulle voorgestel dat ’n beursfonds gestig word.
Kriek vertel dat dit vir die Brinks, net soos vir talle ander ouers, ’n finansiële uitdaging is om in hul kinders se tersiêre opleiding te belê. Hulle verstaan self hoe ’n droogte ’n gesin se finansies en universiteitsplanne in die wiele kan ry. Gevolglik het hulle die NWKV versoek om die voortou te neem en ’n beursfonds te stig wat ’n tasbare verskil in hardwerkende leerders se lewens sal maak. Die NWKV het vervolgens met proff Johan van Niekerk en JW Swanepoel van die UFS se Fakulteit Landbou in gesprek getree om die beursfonds ’n werklikheid te maak.
“Ek kan net met groot dankbaarheid sê dat die universiteit hierdie geleentheid met ope arms ontvang het. Hulle sien ook die simboliek in die Rico-verhaal raak, veral as ’n landboufakulteit met ’n ryk geskiedenis as opleidingsinstansie vir produsente en wetenskaplikes in die bedryf.”
Beurse vir die volgende geslag
Volgens Kriek het die UFS reeds agt volle meestersgraadbeurse in Volhoubare Landbou onder die vaandel van die Rico-beursfonds geposisioneer. Daarby word nog twee voorgraadse beurse deel van die fonds. Een hiervan is spesifiek geoormerk vir ’n leerder uit die breë Karoo-landbougemeenskap, terwyl die ander beskikbaar is vir ’n leerder uit een van die land se wolproduserende gebiede. Hierdie voorgraadse beurse bied aan leerders die geleentheid om enige landbouverwante studierigting binne die UFS se Fakulteit Landbou te volg.
Nes die NWKV wat sy tweede eeu met hoop en nuutgevonde veerkragtigheid betree, betree Rico se verhaal ook ’n nuwe fase. Kriek sê dit is ’n fase waarin ’n helpende hand uitgesteek word na dié met dieselfde oorlewingsgees, werksetiek en wilskrag om te groei en vooruit te gaan.
Die publiek kan ook deel van hierdie nalatenskap word deur tot die beursfonds by te dra. Só kan Rico se verhaal van hoop voortleef – nie net as die verhaal van ’n merkwaardige Merino-ram nie, maar as ’n nalatenskap wat ’n nuwe toekoms vir die jonger geslag help skep.
As jy ’n bydrae wil maak, skandeer die QR-kode en kies ‘Rico Bursary Fund’ op die spyskaart. Alternatiewelik, stuur ’n e-pos aan Dan Kriek by dan@nwga.co.za of besoek www.nwga.co.za







