Heinings en hokke: Instandhouding voor die lamseisoen

Willie Maree het sy lamhokke onderdak met verskuifbare hekkies gebou. Sy ooie lam in ’n beskermde omgewing en die lammers word eers veld toe gestuur wanneer hulle sterk is.

Estimated reading time: 6 minutes

Met lae winsmarges, siektes en roofdiere wat tot 30% van ’n lammeroes kan kos, kan skaapprodusente nie meer bekostig om ’n lam te verloor nie. Daarom gebruik al hoe meer produsente lamhokke of -kampe, of jakkalswerende draad om ’n suksesvolle lammeroes te verseker.

Lamseisoen-voorbereiding behels talle aspekte, waarvan die kondisie en gesondheid van die ooie waarskynlik die belangrikste is. Die instandhouding van die infrastruktuur is egter ewe belangrik, aangesien swak infrastruktuur tot onnodige verliese kan lei, soos siekte-uitbrekings in lamhokke, jakkalse wat lammers vang en lammervrektes weens koue.

Inrigting van lamhokke

Willie Maree, ’n skaapprodusent van Marydale, het sy lamhokke in ’n groot stoor ingerig waar al sy Merino-ooie lam. Vir hom is ’n funksionele stelsel wat skoon water en kos voorsien, belangrik. Die hokke moet groot genoeg wees vir die ooie om in te beweeg, en wanneer die lammers kom moet daar vir hulle ook plek wees. Sy hokke is 2m × 2,5m groot en gebou met verskuifbare hekkies.

“Hierdie hekkies maak dit maklik om die hokke volgens behoefte te vergroot of te verklein. Voor die lamseisoen word alles uitgehaal, sodat die stoor skoongemaak en ontsmet kan word,” sê Maree. Hy voeg by dat die skoon hokke minstens ’n week moet staan voordat die nuwe ooie inkom.

Hy is ook gesteld op skoon, droë beddegoed vir die ooie. Hoewel sommige produsente hortjiesvloere gebruik, verkies hy hoofsaaklik kaf. In sy boerdery word die hokke eers ontsmet en met gebluste kalk bestrooi voordat ’n vars laag kaf op die grond gegooi word.

“Omdat vlieë en brommers lief is vir Merino-wol, het ons ’n streng higiëniese stelsel. Ons kan nie bekostig dat die ooie wurms kry nie. Daarom moet die beddegoed, stoor en hokke skoon en droog wees, en word die ooie teen brommers behandel. Ek verkies ook om hulle voor die lamseisoen te skeer, hoewel dit nie altyd moontlik is nie,” verduidelik Maree.

Vir hom is dit belangrik dat die nageboorte onmiddellik verwyder word om die hokke skoon te hou. Sonder ’n higiëneprogram kan siektes maklik tussen die ooie uitbreek, en ná so ’n voorval neem dit bykans twee weke om die stoor en lamhokke weer skoon te kry. Hy ontsmet die hokke twee tot drie keer om seker te maak dat alle kieme verwyder is.

Aangesien nie almal oor ’n groot stoor vir lamhokke beskik nie, raai Maree produsente aan om buite-lamhokke so te posisioneer dat dit die ergste koue afweer, met ’n afdak wat die ooie teen son en reën beskerm. “Elke produsent ken sy area en weet uit watter rigting die heersende winde kom. Dit is ook beter om ’n permanente afdak te bou pleks daarvan om ’n skadunet te span, want laasgenoemde skeur maklik in sterk wind.”

Slim raad vir lamkampe

Hendrik Cloete, ’n skaapprodusent in die Loxton-omgewing, maak van lamkampe gebruik. “Dit is wenslik om die kampe teen ’n noordelike helling op te rig en nie in diepgrond nie. Wanneer dit reën, moet die water vinnig kan afloop en nie modderpoele in die kampe vorm nie.”

Hy gebruik draadheinings om die kampe, met drade wat sowat 5cm uitmekaar is. Dit keer dat lammers daardeur klim en hou ook jakkalse uit. Hy gebruik ’n visgraat-uitleg om die voorsiening van kos en water in al die kampe te vergemaklik. “ ’n Nuttige wenk is om die draad op een plek ’n bietjie laer te span sodat jy maklik kan oorklim, pleks daarvan om duur hekke tussen die kampe op te rig.”

Cloete meen dat voerbakke eerder in die middel van elke kamp geplaas moet word as direk langs mekaar, met net die draad tussenin. Wanneer ooie by die bakke vreet en blêr, kan dit die lammers verwar. “Ek het ook gevind dat dit beter is om die ooie tussen 12:00 en 14:00 kos te gee. Die ooie lam gewoonlik snags, en vroegoggend is die lammers nog nie in staat om na die voerbak te beweeg nie. Teen die middag is die lammers al ’n bietjie sterker en kan hulle agter die ooie aan loop.”

Vir Cloete is dit belangrik om die skape teen die natuurelemente te beskerm. Hy span veral skadunet om die koue suide- en suidweswinde af te weer, aangesien lammers maklik weens koue wind en gedurende koue nagte kan verkluim.

Hendrik Cloete se lamkampe is in ’n klipperige area ingerig. Die voerbakke staan in die middel van die kamp en nie teen die draad van ’n aangrensende kamp nie.

Goeie instandhouding

Nihan de Villiers, eienaar van Die Draadwerf (’n onderneming in Thabazimbi wat heinings oprig en lamhokke bou), glo dat die skuilings in lamhokke en -kampe so opgestel moet word, dat dit die diere teen koue en hitte beskerm. “Goeie dreinering is nog ’n belangrike faktor, want dit verhoed dat ammoniakvlakke te hoog styg. Maak ook seker daar is voldoende hokke, asook aparte hospitaalkampies of -hokke sodat siek diere uit die groep verwyder kan word,” sê hy.

De Villiers beklemtoon dat arbeiders en voertuie steeds maklik die kampe of hokke moet kan bereik. Uiteindelik moet die produsent die stelsel so inrig dat dit vir hom of haar gemaklik werk.

“Lamhokke moet laag genoeg wees sodat jy maklik bo-oor die heining met die skape kan werk, en vry van skerp hoeke wees wat beserings kan veroorsaak. ’n Doeltreffende drukgang met genoeg sorteerkampe is ook belangrik. Hierdie geriewe moet uit stewige materiaal gebou word sodat dit nie kan buig wanneer skape daarteen druk nie. Die beste is om dit van die begin af sterk genoeg te bou,” is sy raad.

De Villiers sê dit is belangrik dat die krale en drade skoongehou word. Vogtigheid is ’n groot probleem, want dit laat draad en staal vinniger roes en verkort die lewensduur drasties. “Drade moet gereeld skoongemaak en geverf word, sodat dit langer sal hou en op die lange duur baie geld spaar. Indien nuwe kampe gespan word, word volversinkte produkte aanbeveel omdat dit beter bestand is teen veroudering.”

Jakkalse is een van die grootste uitdagings wat skaapprodusente in die gesig staar. Hoewel hierdie roofdier nog lank ’n probleem sal wees, is daar hulpmiddels wat kan help om hulle op hul plek te hou. “Rig van meet af die regte heining op. Oorweeg elektrifisering saam met jakkalsdraad of gespesialiseerde draad wat gemaak is om roofdiere uit te hou. Onthou dat die heining net gaan werk as jy daarna omsien. Gaan dit dus gereeld na en maak seker daar is geen gate onderdeur gemaak nie.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Willie Maree by 078 843 6616, Hendrik Cloete by 076 153 8785, of Nihan de Villiers by 071 890 1131.