Herstel van die veld na afloop van ’n droogte

Goeie veld is een van die beste droogtebuffers wat ʼn veeboer kan hê. Veld wat in ’n swak toestand verkeer, het vier agterstande vergeleke met goeie veld. Dit het minder water in die grondprofiel (met dieselfde reënval) en die grond is dus droër; die plante wat daarop voorkom produseer minder ruvoer met dieselfde hoeveelheid water; die ruvoer wat geproduseer word, is van swakker gehalte; en die wins/ha is betekenisvol laer. Dit is dus belangrik vir veeboere om die skade wat die veld gelei tydens ʼn droogte het, behoorlik te herstel.

Wat beïnvloed die veld se herstelvermoë na afloop van ’n droogte?

Die veldsoort – die verskil tussen grasse en bossies se herstelproses

Plante hergroei vanuit hul groeipunte. In die geval van grasse sit hierdie groeipunte in die kroon (sien Figuur 1) wat net onder die grondoppervlakte sit of net gelyk met die grondoppervlakte sit. Sommige van die hierdie groeipunte sal wel tydens die droogte afsterf, maar dit kan nie afgewei word nie. In die geval van bossies, sit die groeipunte in die ogies wat oor die hele area van die plant se bogrondse dele versprei is (sien Figuur 2). Hierdie groeipunte kan dus afgewei word en hoe korter die bossie afgewei is, hoe minder ogies is daar vir hergroei na afloop van die droogte beskikbaar.

Plante maak aanvanklik van hul gestoorde groeireserwes gebruik tydens hergroei. By grasse is dié reserwes in die wortels gestoor. Bossies, daarenteen, het twee stoorplekke, te wete die bogrondse takkies en stingels en die wortels. Die reserwes wat in die plantwortels gestoor word, kan nie deur beweiding verwyder word nie, behalwe dat die hoeveelheid wat gestoor word, wel deur die intensiteit van ontblaring geaffekteer word. Die reserwes wat in die bogrondse dele van bossies gestoor word, kan egter direk deur beweiding verwyder word, wat bossies baie kwesbaar maak.

Die gestoorde groeireserwes word gebruik om die eerste blare ná die droogte te vorm. Dit staan as aanvangsgroei bekend. Sodra die eerste groen blare verskyn, begin die plante om te fotosinteer. Sodra die plante genoeg groen blare gevorm het om via fotosintese volledig aan hulle groeibehoeftes te voorsien, sal hulle ophou om die reserwes vir hergroei te gebruik. As die plante egter te gou ná aanvanggroei bewei word, met ander woorde voordat hulle via fotosintese volledig in hul groeibehoeftes kan voorsien, sal hulle voortdurend van hul reserwes onttrek.

Na ʼn strawwe droogte is die plante se groeireserwes gewoonlik laag. As die plant dan geforseer word om te veel en te aanhoudend van sy beperkte reserwes te onttrek, bestaan daar die moontlikheid dat van die plante wat die droogte oorleef het, sal afsterf (nadat die droogte gebreek is), wat die toekomstige produktiwiteit van die veld baie sal benadeel. Navorsing deur Danckwerts & Stuart-Hill in die Oos- Kaap het getoon dat as veld te gou ná die droogte bewei word, dit stadiger herstel as veld wat eers kans gekry het om uit te groei. Die verskil was drie jaar daarna steeds waarneembaar.

Figuur 1: Die morfologie van ‘n grasplant

Die groeireserwes wat in die wortels van grasse gestoor word, is betreklik maklik toeganklik vir die plant. Die reserwes in die bogrondse takkies van bossies, is hul eerste bron vir hergroei aangesien dit in ʼn maklik opneembare vorm beskikbaar is. As die bogrondse takkies egter grootliks deur beweiding verwyder is, is die bossies op hul wortelsreserwes aangewese. Bossies se wortelreserwes is minder geredelik beskikbaar vir hergroei as dié van grasse. Trouens, bossies sukkel om reserwes uit die wortels te onttrek vir hergroei. Daarom hergroei bossies heelwat stadiger uit die wortelreserwes as wanneer genoegsame bogrondse reserwes beskikbaar is.

ʼn Kort ontblaarde bossie het dus twee probleme om te oorkom na afloop van ʼn droogte. Dit moet eers nuwe groeiknoppe aanlê, wat ʼn tydsame proses kan wees, veral omdat dit van die wortelreserwes, wat moeilik onttrek word, gebruik moet maak. Daarna vorm nuwe stamme uit hierdie nuwe ogies, waarop weer nuwe ogies gevorm kan word. So herhaal die proses homself van ogies vorm en nuwe stamme vorm. Hierdie is die rede waarom bossies wat kort ontblaar is, so stadig na ʼn droogte herstel.

Figuut 2: Die morfologie van ‘n bossie

Die mate van ontblaring tydens die droogte

Aanhoudende strawwe ontblaring van grasplante tydens die droogte gee aanleiding tot ʼn afname in die wortelsmassa en die hoeveelheid groeireserwes wat vir hergroei beskikbaar is. Sommige van die groeipunte sal ook afsterf, maar die meeste sal egter behoue bly, behalwe as groot dele van die graspol afsterf. Die oorblywende groeipunte en wortelreserwes sal egter tot vinnige hergroei aanleiding gee, mits die grasveld voldoende hersteltyd gegun word.

Die strawwe ontblaring van bossies lei nie noodwendig tot ʼn betekenisvolle afname in die plante se wortelmassa nie, maar dit lei tot ʼn drastiese afname in die bogrondse reserwes en die beskikbaarheid van groeipunte. Soos reeds in die vorige paragraaf bespreek, herstel bossies wat straf ontblaar is, baie stadig, terwyl bossies wat nie so straf ontblaar is nie, aansienlik vinniger herstel.

Die veld se toestand voor die droogte

Veld wat voor die droogte reeds in ʼn swak toestand was, veral as dit swak bedek was, herstel stadiger as veld wat die droogte in ʼn uitstekende toestand tegemoet gegaan het. Hieronder verskyn twee foto’s wat in die Noord-Kaap geneem is na afloop van die droogte in die 1990’s.

Links op die eerste foto is veld in ʼn goeie toestand wat ná die droogte vinnig herstel het. Regs is ʼn kamp wat ook ʼn goeie toestand is, maar wat noodgedwonge direk ná die droogte bewei moes word, en wat later spesiale behandeling nodig sal hê om van die gevolglike skade te herstel.

Die tweede foto is van veld wat reeds voor die droogte in ʼn swak toestand was (yl bedek). Hierdie foto is op dieselfde dag as die eerste foto geneem – dit is net aan die ander kant van die pad wat deur die twee plase loop.

ʼn Verdere probleem met veld wat swak bedek is, is dat dit kan begin “waai”, veral op sanderige grond. Sommige plante sal dan onder die sand toewaai en versmoor, terwyl ander plante se wortels oop waai. Dit is belangrik om hierdie wind-erosie te stop deur middel van bewerkingsmetodes, soos om ʼn vlekploeg te gebruik of deur middel van die skep van ʼn grondbedekking, soos die pak van plantmateriaal of buitebande.

Die beskikbaarheid van saad vir die vestiging van nuwe plante

Veld wat in ʼn goeie toestand is en wat binne ʼn goed beplande weidingstelsel benut word, sal geen probleem hê met die hoeveelheid saad wat in die saadbank beskikbaar is nie. Netso, sal die spesiesamestelling van die saadbank ook gunstig wees, met genoeg saad van selfs die goeie en smaaklike plante.

Veld in ʼn swak toestand, asook veld wat verkeerd bewei word, sal nie noodwendig te min saad hê nie, maar die spesiesamestelling van die saadbank sal swak wees. Dit sal hoofsaaklik saad bevat van eenjarige, sowel as minder smaaklike en onsmaaklike plante.

Saad van goeie Karooweiplante kan by die volgende plekke aangekoop word; te wete by Renu-Karoo (023 5411 828) en Worcester Veldreserwe (023 347 1121). Hou egter in gedagte dat Karoobossies baie spesifieke omgewingstoestande vereis voordat dit sal vestig (sien die paragrawe wat volg). Moenie die duur saad dus sommer lukraak uitstrooi nie.

Sommige grasse en bossies besit die vermoë om vegetatief voor te plant, met behulp van bogrondse lopers of met ondergrondse wortelstokke (sien Figuur 1).

Die ontkieming- en vestigingspatrone van die plante

Die ontkieming en vestiging van plante vanaf saad, kan met ʼn hartklop vergelyk word. Elke keer wanneer daar gunstige omgewingstoestande vir ontkieming heers, sal groot hoeveelhede saad ontkiem. Hierdie staan as die ontkieminghartklop bekend. Vir hierdie ontkiemde saad om dan daarna suksesvol te vestig, heers daar ʼn ander stel omgewingstoestande. Mits die toestande gunstig genoeg is, sal die ontkiemde plante dus vestig. Hierdie staan as die vestiginghartklop bekend. Hieruit is dit dus duidelik dat saailinge nie noodwendig permanent vestig nie. Dit is twee prosesse.

Beide bossies en grasse het ʼn sogenaamde vinnige ontkieminghartklop, wat beteken dat hulle relatief eenvoudige omgewingstoestande vereis om te kan ontkiem (sien Figuur 3) en wat redelik gereeld voorkom.

Figuur 3: Die sogenaamde ontkieminghartklop van grasse en bossies. (Let op dat die kronologiese volgorde van die syfers in die skets nie beteken dat hierdie hartklop elke jaar voorkom nie, dit dui net aan dat daar nie ʼn relatiewe verskil tussen grasse en bossies is nie.)

Grasse het, net soos vir ontkieming, ʼn relatief eenvoudige stel omgewingstoestande nodig om te kan vestig. Die kans is dus betreklik goed dat ʼn goeie persentasie van die grasse wat ontkiem het, uiteindelik sal vestig. Bossies, daarenteen, benodig ʼn baie meer gunstige stel omgewingstoestande oor ʼn relatief lang periode van ses weke en langer om te kan vestig. Gevolglik is die vestiginghartklop van bossies heelwat stadiger as die van grasse (sien Figuur 4). Bossieveld herstel dus baie stadiger vanaf saad as wat die geval met grasveld is.

Die verkeerde beweiding van grassaailinge kan die herstel van grasveld baie benadeel. Die verkeerde beweiding van bossiesaailinge kan katastrofies vir die herstel van bossieveld wees.

Figuur 4: Die sogenaamde vestigingshartklop van grasse en bossies. (Die kronologiese aard van die syfers by die grasse beteken nie dat grasse jaarliks vestig nie. Dit beteken ook nie dat bossies elke vier tot vyf jaar vestig nie. Dit is bloot gebruik om die relatiewe verskil tussen grasse en bossies te illustreer.)

Beste beweidingspraktyke tydens die herstelfase?

Wag eers met die herstel van die veestapel totdat die veld voldoende herstel het. Die ideaal is om aan te hou om die diere weg van die veld te voer, maar dis nie altyd bekostigbaar nie.

  • Gebruik eerste die aangeplante voerbronne op die plaas totdat die veld voldoende herstel het. Hierdie voerbronne kan later relatief maklik herstel of vervang word.
  • Indien dit nie moontlik is nie, bewei eerste daardie kampe wat die minste benadeel sal word, terwyl die meer kwesbare en waardevolle veld kans gegee word om behoorlik te herstel. Gewoonlik is berg- en ranteveld, asook kampe met harde, onsmaaklike plante en vlak klipperige grond, die beste om eerste te bewei. As daar nie sulke kampe op die plaas beskikbaar is nie, kies enkele kampe wat “opgeoffer” kan word, terwyl die res van die veld herstelkans gegee word. Hierdie kampe moet egter later spesiale behandeling ontvang om die skade te herstel.
  • Moenie die kamphekke oopgooi en die diere toelaat om na willekeur rond te loop nie. Hulle wei selektief en gaan die kosbare, smaaklike plante eerste vreet! Keer eerder terug na die normale beweidingstelsel sodra die veld herstel het. As daar nie ʼn goeie weidingstelsel op die plaas is nie, is nou die tyd om met een te begin (en nie tydens die droogte nie).
  • Ongewenste indringerbosse gaan ook die gunstige toestande gebruik om te vermeerder. Wees bedag hierop. Begin so gou moontlik met indringerplantbeheer nadat hulle ontkiem en gevestig het. Dit is makliker en goedkoper om die jong plante te beheer.

Hoe lank gaan dit die veld neem om te herstel en wanneer kan dit as herstel beskou word?

Sodra die plante aktief fotosinteer en nie meer van die groeireserwes afhanklik is nie, en wanneer die nuwe generasie plante goed gevestig is en nie meer uitgetrek kan word nie, kan ʼn mens aanneem dat die veld herstel het. Bossies en struike wat blom en grasse wat saad maak is altyd ʼn goeie aanduiding dat die mees kwesbare stadium vir die plante wat die droogte oorleef het, verby is. As die saailinge én bogrondse lopers nie meer met die hand uitgetrek kan word nie, is hulle gereed vir die eerste ligte beweiding.

Grasveld wat voor die droogte in ʼn goeie toestand was behoort binne ses weke te herstel, mits die droogte behoorlik opgehef is. Hoe swakker die veldtoestand, hoe langer gaan dit neem. Grassaailinge behoort binne twee maande na ontkieming reeds vir die eerste keer lig ontblaar te kan word.

Bossieveld wat nie te straf ontblaar is tydens die droogte nie, behoort binne ses weke te herstel. Bossieveld wat straf ontblaar is kan tot so lank as drie maande neem. Dit kan baie jare neem vir bossieveld om vanaf saailinge te herstel. – dr Louis du Pisani

(Gedeeltes van hierdie artikel is oorgeneem uit die boek Slim droogtebestuur vir veeboere deur Dr Louis du Pisani).