Gesonde, gelukkige diere en volhoubare produksie

2020 sal sekerlik as ‘n jaar van uiterstes onthou word. Die Covid-19 pandemie is na bykans ‘n jaar steeds met ons, en het steeds ‘n geweldige impak op verbruikersbesteding. Die wolbedryf word ook steeds op verskeie maniere hierdeur geraak. Nietemin vereis die internasionale verbruiker steeds wolprodukte wat volhoubaar geproduseer word, en skape wat gelukkig en gesond is. Die uitdaging is dus om volhoubaar, verantwoordelik, doeltreffend, en winsgewend te bly.

Die jaar 2020 sal ook vir die Amerikaanse verkiesing en die omstrede uitslag onthou word, met gepaardgaande (ongestaafde) bewerings deur president Trump van grootskaalse knoeiery. Amerika is steeds die grootste ekonomie ter wêreld, en die handelsoorlog tussen Amerika en China het ook afgewentel na die tekstielbedryf, wat natuurlik wol insluit.

Die uitwerking van die Covid-19pandemie op Chinese besteding aan klerasie het reeds met 45% in die eerste kwartaal van die jaar gedaal en markkenners meen dat die verbruikersbesteding op klerasie vanjaar met tot VSA$60 miljard in China kan daal. Die groot modehuise in Europa het vanjaar sekerlik een van die grootste uitdagings in hulle bestaan beleef en die handelsomgewing gaan nog ‘n geruime tyd baie moeilik wees.

Met die vertraging in verbruikersbesteding in Europa gaan die Chinese mark ’n deurslaggewende rol in die herstel van die tekstielbedryf speel. Dit sal ’n verdere hupstoot kry deur beter handelsverhoudinge tussen China en Amerika onder die toekomstige Demokratiese president.

Wat beteken dit alles vir die tekstielbedryf, en meer spesifiek, die Suid-Afrikaanse wolbedryf?

Die enigste ding wat seker is, is dat daar wêreldwyd nog steeds baie onsekerheid gaan wees. Hierdie onsekerheid gaan gewoonlik gepaard met wisselvallige markte, en dit spoel ook oor na ander sektore, byvoorbeeld tekstiele. Dit bly dus belangrik om ’n strategie te volg wat die storms kan weerstaan en om die wolbedryf korrek te posisioneer vir ’n moontlike groeisiklus in tekstiele.

Veranderende voorkeure en geleenthede

Ons het reeds oor die afgelope dekade gesien dat handelsmerke se behoeftes besig is om te verander en dat die verbruiker ook toenemend met nuwe oë na hulle aankope kyk. Daar word wêreldwyd al meer klem geplaas op die volhoubaarheid van produkte en produksieprosesse regdeur die hele waardeketting. Die verbruiker van die toekoms kan heel anders lyk as een van ’n jaar gelede, met baie meer aanlyn navorsing en moontlik ook aanlyn aankope, veral in die tekstielbedryf.

Hiermee saam gaan toenemend eise gestel word ten opsigte van naspeurbaarheid en die versekering dat die vesels in klerasie wel volhoubaar geproduseer is. Daar word ook aangedring op etiese vevaardigingspraktyke.

Op die afgelope Textile Exchange virtuele konferensie is baie sterk gefokus op klimaatvriendelike praktyke en die impak van veselproduksie op biodiversiteit in die produksie-omgewing.

Standaarde om produksiepraktyke en die uitwerking op die omgewing te assesseer raak toenemend belangrik. Wanneer dit moontlik is vir ’n tekstielbedryf om inligting op ’n deursigtige manier vir die handelsmerke beskikbaar te stel sonder om addisionele druk op kostes te plaas, gaan daar geleenthede in die mark oop.

Standaarde bied sekerheid

Sedert die bekendstelling van die Volhoubare Cape Wools Standaard (SCWS) aan die begin van Julie 2020 was daar sterk belangstelling van verskeie internasionale handelsmerke wat navraag gedoen het oor die funksionering van die standaard. Dít terwyl daar reeds ander gevestigde standaarde in die wolbedryf is.

Daar word tans op verskeie vlakke onderhandel om ooreenkomste te verseker vir die verdere gebruik van volhoubare, naspeurbare wol uit Suid-Afrika, met die nuut-gestigte naspeurbaarheidsplatform binne Cape Wools, wat die gebruik van inligting verder in die pyplyn kan bewerkstellig.

Dit is belangrik dat die sprong gemaak moet word van volhoubaarheid in die vorm van ’n verklaring, byvoorbeeld die “non-mulesed declaration”, na volhoubaarheid deur middel van ’n fisieke assessering, gepaard met eksterne derdeparty-verifikasie. Op hierdie manier word vertroue in die waardeketting opgebou, wat dan weer verder afgewentel word na die verbruiker.

Om ’n balans te handhaaf tussen die praktiese implementering op grondvlak en die behoeftes van handelsmerke en verbruikers, bly die betrokkenheid van bedryfsorganisasies by die vestiging van standaarde baie belangrik. Dit word verder gerugsteun deur die onafhanklikheid van sulke organisasies. Dit maak dan ook die SCWS uniek omdat die standaard deur die wol-waardeketting in Suid-Afrika besit word.

Wol is nie ’n outomatiese keuse vir die moderne verbruiker nie, en die unieke karaktereienskappe van die vesel, asook die storie daaragter, moet vir die verbruiker op ’n verstaanbare manier vertel word.

Deur deel te neem aan ’n standaard soos die SCWS, wat vertroue by handelsmerke en verbruikers vestig, en deursigtigheid in die waardeketting verseker, kan daar geleenthede geskep word vir Suid-Afrikaanse wol op internasionale markte.

NOG SIENINGE:

Leon de Beer: “Die NWKV het reeds in 2008 ’n Kode van Beste Praktyk ontwikkel om die Suid-Afrikaanse wolprodusent en ons gesogte skeersel aan die hand van gesonde, omgewingsvriendelike produksiepraktyke in die internasionale wêreld te bevorder. As produsenteorganisasie het ons adviesdienste die geleentheid om die oudits namens Cape Wools SA te doen, met entoesiasme aangegryp. Ons kundige en opgeleide adviseurs is volledig bemagtig om wolprodusente hieroor te adviseer, veral omdat die SCWS ’n trots Suid-Afrikaanse produk is wat aan internasionale vereistes voldoen.” Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools SA (CWSA)