Biosekuriteit kan as ‘risikobeheer in die werksomgewing’ beskryf word. Hoe minder onbeheerde of ongekontroleerde kontak daar tussen en met die diere op die plaas is, hoe makliker is dit om aansteeklike siektes te beperk of te beheer. Deeglik beplande toegangsbeheer is altyd die eerste linie van verdediging vir ’n wolprodusent.
Diere wat na die plaas verskuif word
Nuut aangekoopte diere behoort altyd getoets, en in kwarantyn of isolasie geplaas te word. Dit is raadsaam om enige kontak tussen dié diere en die diere wat reeds op die plaas is te voorkom deur hulle in kampe te plaas wat minstens 2m ver van plaasdiere af is. Daar word ten sterkste aanbeveel dat inkomende diere geïmmuniseer en gedip word, asook ’n minimum van 10 tot 14 dae (vir diere vanuit moontlik besmette gebiede is die tydperk 21 tot 28 dae) in kwarantyn bly vir waarneming in samewerking met die kuddeveearts.
Diere wat ná ’n veiling of skou teruggebring word plaas toe, kon moontlik met besmette diere in aanraking gewees het. Daarom is die handhawing van korrekte immunisering of ’n inentingsprogram van groot belang in die beplanning van biosekuriteit. Produsente kan van semen of embrio’s gebruik maak as ’n verminderde risiko.
Verhandelingsverklaring
Wanneer lewendehawe en/of wol aan die abattoir, veiling of ander afsetpunte gelewer word, moet die produsent etiese praktyke handhaaf. Openlike en eerlike kommunikasie met die bure en ander partye betreffende die waarneming van enige dieresiektes vorm deel van biosekuriteitspraktyke. Dit is altyd goeie praktyk om ’n verhandelingsverklaring (vendor declaration) as beskermingsmaatreël saam te stel vir die produkte wat verkoop word.
Beheer oor plaasgrense heen
Produsente hou hul grensdrade noukeurig in stand ten einde roofdiere te beheer, maar vir biosekuriteit is dit net so belangrik. Siektes word maklik tussen buurplase oorgedra, veral as vee kan deurkruip of wilde diere tussen plase kan beweeg.
Toegang- en bewegingbeheer van mense
Mense kan siektes versprei. Deurgang moet verbied word indien moontlik, of deurgangsroetes moet goed beheer of verminder word. Produsente wat van dagloners gebruik maak, kan die oordrag van siektes voorkom deur werksklere te verskaf wat by aankoms op die plaas aangetrek moet word. Verder kan die risiko verlaag word deur stortgeriewe te verskaf en/of voetbaddens by krale aan te bring vir die ontsmetting van skoene. Alle werknemers en ook besoekers aan die plaas moet van die plaas se biosekerheidsmaatreëls bewus gemaak word.
Die beweging van voertuie kan nie altyd gereguleer word nie. Die risiko kan verminder word deur maatreëls in te stel om elke voertuig wat die plaas betree, eers met ’n ontsmettingsmiddel te was of af te spuit. Ontsmettingsbaddens waardeur voertuie moet ry kan by ingangsroetes na die plaas gebou of geplaas word.
Daar behoort ook biosekerheidsmaatreëls ingestel te word vir die gebruik, leen, en vervoer van plaastoerusting en implemente, soos die voermenger of tuingereedskap. Higiëne is die belangrikste van hierdie maatreëls.
Veevoer
Veevoer kan ’n bron van siektes en peste vir plante, diere, en mense wees. Dit is dus raadsaam om voer by geregistreerde veevoerhandelaars of vertroude produsente aan te koop. Verskaffers van veevoer moet biosekuriteitstandaarde handhaaf, daarom is die beginsel van naspeurbaarheid so belangrik.
Die produsent behoort aangekoopte veevoer te ondersoek of te laat ondersoek voordat dit op die plaas afgelaai word. Dit moet, waar moontlik, in ’n stoor geberg word waartoe veral knaagdiere, wat siektes kan versprei, nie toegang het nie. – Dawie Botha, NWKV produksie-adviseur, Noord-Kaap





