Te oordeel na die natuur, het 2021 baie goed afgeskop vir die meeste kleinveeboere in Suid-Afrika. Groot dele van die land het gedurende Desember en veral Januarie baie lekker genadewater ontvang. Ons kom uit ’n baie groot droogte wat veroorsaak het dat kernkuddes erg verklein het, en jy as boer sal nou ’n daadwerklike poging moet aanwend om jou kudde weer op die regte getal vir jou plaas te kry.
Waar begin ’n mens dan met die uitbou van jou kudde in 2021? Kapitaal mag verseker nou ’n probleem wees, dus sal die meeste boere nie ooie kan inkoop nie. Die paarseisoen van Maart/April is op hande, en om te verseker dat jy die maksimum aantal lammers bykry is dit belangrik om aan die volgende paar punte aandag te gee:
Vervangingsooie
- Ent die ouer groep ooitjies, wat in die herfs die eerste keer gepaar word, in teen ensoötiese aborsie, pasteurella, bloednier, bloutong, Slenkdalkoors, en ander siektes wat in u area voorkom. Moenie vir ensoötiese aborsie inent indien dit nie in u kudde teenwoordig is nie.
- Die ooitjies wat sopas geselekteer is (dié wat in Augustus/September gebore is), moet teen bloutong ingeënt word. Doen A, B, en C apart, en gee die inentings ses weke uitmekaar.
- Ent die jong ooitjies in met bloednieropvolg.
Ooie wat gepaar word
- Skuif die ooie na vars kampe 14 dae voor die ramme bykom om hulle op ’n natuurlike wyse te prikkel.
- Die afskeer van ooie is ’n ander natuurlike manier om hulle te prikkel.
- Mikskeer die ooie (indien nodig). Dit help die ramme om hul gemakliker te dek.
- Doseer of spuit met ‘n breëpektrum middel teen rondewurms (veral haarwurm) en neuswurm.
- Jong ooie moet hul kritieke liggaamsmassa, naamlik 75% van volwasse massa, voor paring bereik.
- Dit is belangrik dat ooie se minimumkondisiepunt rondom 3 is en dat hulle in ’n groeivoedingsregime is om te verseker dat hulle genoegsame eiselle sal afskei.
BELANGRIK: Jong diere wat vir die eerste keer voorkomend ingeënt word, moet binne ses weke weer ingeënt word om weerstand te versterk. As dit nie gedoen word nie, beteken die een inenting niks. Hierdie opvolg-inenting word ’n skraagdosis genoem.
Ramme
Alle aksies moet minstens agt weke voor paring afgehandel wees om tydelike steriliteit te vermy.
- Skeer die ramme en doen alle nodige inentings, doserings, en aanvullings van minerale vir die herfsparing.
- Sorg dat die ramme in ’n goeie kondisie is voor paring. Prikkelvoeding soos hawerpitte of ’n goeie lek gee goeie resultate. Wees versigtig vir skoon mielies of sjokolademielies, aangesien dit tot die aansameling van vet om die testes kan lei, wat die ramme se vrugbaarheid aantas. ’n Lek hoog in proteïen word aanbeveel. Sorg vir genoeg vreetspasie sodat die ramme almal gelyktydig kan vreet. Ramme moet pers tussen die voor- en agterbene wees wanneer hulle na die ooie gaan.
- Laat toets vir vrugbaarheid en geslagsiektes.
- Doseer ramme 20ml koringkiem per week vir die laaste vier weke voor hulle na die ooie gaan.
- Maak die ramme fiks.
- Doseer of spuit met ’n breëspektrummiddel teen rondewurm (veral haarwurm) en neuswurm. Die ramme se neuse moet skoon wees om die ooie wat op hitte is ordentlik te kan ruik.
- Maak seker dat die ramme skoon is van bosluise.
- Ooie kom elke 16 tot 17 dae op hitte, dus is ’n paarseisoen van 34 dae voldoende.
- Indien ooie goed voorberei is, is daar geen sin om die paarperiode langer as 34 dae te maak nie. Met hierdie praktyk selekteer jy vir jou meer vrugbare ooie – sodoende verhoog jou kudde se vrugbaarheidstatus. Ramme word dan op dag 35 uitgehaal.
- Gebruik 4 tot 5% ramme by die jongooitjies en 3% by volwasse ooie.
- Koggelramme (opsioneel hierdie tyd van die jaar): Koggel die ooie vir nege dae voor paring. Haal koggelramme teen laatmiddag van dag nege uit en vervang met ramme.
Indien jy bogenoemde punte nougeset toepas, behoort jy die vroulike diere op die plaas dragtig te kry. Dit sal verseker dat jy teen speentyd baie vervangingsooitjies gaan hê waarmee jy jou kudde kan uitbou.
Indien jy kapitaal beskikbaar het om vroulike diere aan te koop, sal dit raadsaam wees om dragtige diere in te koop om te verseker dat die vroulike diere wel vrugbaar is. Maak seker die siektestatus van die ingekoopte diere is bekend om te verseker dat jy nie jou plaas se biosekuriteit in gedrang bring nie. ’n Enkele siek dier kan veroorsaak dat ’n hele kudde uitgeslag moet word.
Dit is dus van kardinale belang dat enige ingekoopte diere vir minstens drie tot vier weke in afsondering geplaas moet word, sodat jy as produsent seker is dat hierdie ingekoopte diere nie jou kudde sal besmet nie. Voorkoming is altyd baie beter, en goedkoper, as genesing. – Juan Venter, NWKV produksie-adviseur, Oos-Kaap






