Die NWKV is ’n landwye organisasie wat uit ses provinsiale takke bestaan: ’n hoofkantoor in Port Elizabeth (Oos-Kaap) en takke in Harrismith (KwaZulu-Natal), in Ermelo (Mpumalanga), in Bloemfontein (Vrystaat), in Carnarvon (Noord-Kaap), in Middelburg (Oos-Kaap) en in Caledon (Wes-Kaap). Daar is ook kantore vir kommunale boere in Oos-Londen, King William’s Town, Kokstad, Queenstown, Sterkspruit, Butterworth, Mt. Frere, Mthatha, en Cofimvaba. ‘n Personeelkorps van 37 bedien die wolprodusent op nasionale en provinsiale vlak.
Hoekom ’n produsenteorganisasie, en hoekom moet ek as produsent daaraan behoort?
Die rol wat die NWKV binne die wolbedryf speel, behels kortliks die volgende:
- Die NWKV is een van die oudste kommoditeitsorganisasies in Suid-Afrika en is reeds in 1929 op Middelburg in die Oos-Kaap gestig. Die NWKV het in middel-Junie hul 89ste jaarkongres in Port Elizabeth gehou.
- Die NWKV is die amptelike verteenwoordigende liggaam vir kommersiële, opkomende, en kommunale wolboere.
- Die visie vir die bedryf is méér skape, en dus méér wol! In 1990 is 100 miljoen kilogram wol geproduseer, waarna produksie afgeneem het tot op 50 miljoen kilogram waar dit tans stand. Die huidige mikpunt is egter 75 miljoen kilogram.
Hoe gaan ons dit bereik?
- Deur boere te help om ’n beter markomgewing te skep.
- Deur ’n effektiewe institusionele omgewing te skep deur met die regering te skakel.
- Deur voortdurend te poog om ons ledebasis uit te brei en daardeur te verseker dat die NWKV verteenwoordigend van die wolboere bly.
- Deur ’n winsgewende produksieomgewing te skep.
Bogenoemde mikpunte word bereik met behulp van die tweemaandelikse glanstydskrif, Wolboer/Wool Farmer, asook ’n maandelikse elektroniese nuusbrief, sosiale mediaplatforms, en die NWKV-webwerf wat belangrike inligting en tegniese artikels bied.
Die NWKV se nasionale kongres vind jaarliks plaas en is die organisasie se hoogste struktuur en gesag vir besluitneming.
Die NWKV het namens sy lede vir rampversekering beding, wat skade weens brand, weerlig, storms, oorstromings, hael, sneeu en verkluiming dek. Die Hollard-katastrofedekkingspolis maak voorsiening vir premies van R4,50 tot R6,00 per skaap, wat dekkingsopsies van R1,5 miljoen tot R6 miljoen vir NWKV-lede bewerkstellig, terwyl nielede dubbeld soveel vir hierdie premies betaal.
Uitdra van die belange van die wolbedryf
Guillau du Toit, die nasionale voorsitter van die NWKV, het in sy voorsittersrede by die 2018-kongres verwys na die produsent wat as fondament van die wolbedryf van Suid-Afrika geag word. “Ons produsente is van kardinale belang om die fondament sterk te hou, sodat daar verder op voortgebou kan word,” het hy gesê. Dit word gedoen deur middel van waardevolle insette op verskeie gebiede van die bedryf, soos die betrokkenheid van die NWKV op die volgende terreine:
Kommersieel
1. ’n Produksie-adviesdiens word deur die NWKV aan boere beskikbaar gestel en fokus op:
- Opleiding, ontwikkeling, en mentorskap.
- Reproduksieopleiding, wat in sewe modules aan boeregroepe aangebied word.
- Boerdery-ontledingsdienste, waar die ekonomie van ’n boerdery ontleed word sodat aanbevelings vir verbetering aan die boer gemaak kan word.
- Predasiebestuur, waar gekyk word hoe die impak van roofdiere soos jakkalse en rooikatte wat lammers en skape vang, verminder kan word.
- Skeeropleiding.
- Die verbetering van die gehalte van Suid-Afrikaanse skeersels.
2. Agri SA, wat algemene sake namens die landbouer hanteer.
3. Die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF), waar insette gelewer en standaarde gestel word vir biosekuriteit en dieregesondheid. Bydraes tot gehaltestandaarde en die beskikbaarheid van entstowwe is van die aspekte wat van kritieke belangrik is vir ’n bedryf wat uitvoer en blootgestel word aan wêreldhandel en buitelandse regulasies.
4. Veediefstalforums, wat belangrike aksies van stapel stuur.
5. Die Predasiebestuursforum (PMF), waar die NWKV die sekretariaat bedryf en waar eie fondse bestee word om predasie in samewerking met ander bedrywe te bekamp.
6. AgriSETA se subsektorkomitee, waar opleidingsbehoeftes aangemeld word en waar toegesien word dat opleidingstandaarde gehandhaaf word. Skeerderopleiding is deel hiervan.
7. ‘n Navorsingskomitee om toe te sien dat navorsingsbevindings toegepas word om die produsent te help om besluite te neem wat tot optimale produksie lei.
8. Deurlopende skakeling met regerings- en finansieringinstansies om infrastruktuur en kuddeverbetering in kommunale gebiede te verseker ten einde ’n beter bemarkbare produk aan die internasionale mark beskikbaar te stel.
9. Die Woltoetsburo, wat ’n kardinale funksie vervul met betrekking tot die toets van wol om ’n produk wat relevant en mededingend in die wêreldmark is, te verseker.
10. Cape Wools SA se produksie-adviesdiens is in die NWKV gesetel en word gebruik om leemtes op boerderyvlak te ontdek, tekortkominge uit te wys, winsgrense te verhoog, bewusmaking te bewerkstellig en goeie praktyke te vestig.
11. Cape Wools SA se raad van direkteure bevorder bedryfsamewerking, die bereiking van gesamentlike doelwitte en doen promosie vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf.
12. Die Woltrust, wat bepalende insette maak in die goeie bestuur van trustfondse.
13. Deelname aan drukgroepe om hidrobreking (fracking) en voortsetting van uraanontginning in die Karoo te verhoed.
14. Die International Wool Textile Organisation (IWTO): internasionale verteenwoordiging en jaarlikse bywoning van die prestige-IWTO-kongres, waar internasionale wolbevorderingsprojekte bespreek en ondersteun word.
Kommunaal
Die NWKV is betrokke by kommunale boere deur middel van ’n redelik omvattende opleidingsprogram, wat die volgende funksies betrek:
- Organiseer kleinboere in wolproduksieverenigings om wol kollektief te bemark.
- Verskaf opleiding en mentorskap waar 13 kursusse in basiese wolproduksie aangebied word.
- Ontwikkel infrastruktuur waar skeerhuise en alle toerusting om wol te oes en te klas, beskikbaar gestel word.
- Bied ondersteuning vir markgereedheid en marktoegang deur met die betrokkenheid van makelaars te help om die formele mark te betree.
- Bied ’n genetiese verbeteringsprogram om huidige diere met goeie gehalte-ramme te vervang om daardeur die kwaliteit van hul nageslag te verseker.
- Dien kommunale boere in alle besluitnemingstrukture in die wolbedryf. Die nasionale visevoorsitter van die NWKV, Sipiwo Makinana, dien byvoorbeeld in die direksie van Agri SA. – Bonita Francis






