Die suksesverhaal van Suid-Afrika se Dohne Merino Deel 3: Dohne-inspekteurs en rasstandaarde

Die Dohne Merino is bekend vir sy uitstekende vleis- en wolproduksie. Dit is ’n geharde dier wat met goeie bestuur besonder goed in ekstensiewe toestande kan presteer.

Estimated reading time: 6 minutes

Wanneer na seleksiepraktyke in ’n veranderende landbou-omgewing gekyk word, is dit belangrik om die teeldoelwitte van die Dohne Merino-telersgenootskap in gedagte te hou. In die derde aflewering van hierdie reeks het Veeplaas by Jan Joubert, ’n prominente senior inspekteur in die bedryf, gaan kers opsteek oor die inspeksiekriteria van die Dohne Merino, hoe om ’n inspekteur te word, en waarna inspekteurs kyk wanneer die diere beoordeel word.

Lees Deel 2: Wat doen almal anders?

Dubbeldoel is steeds gesog

Die Dohne Merino-telersgenootskap spog met meer as 100 geregistreerde inspekteurs wat streke soos die Karoo en Wes-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Hoëveld bedien. Volgens Joubert is die Dohne-rasstandaarde oor baie jare verfyn en fokus die moderne standaard hoofsaaklik op funksionaliteit, aanpasbaarheid, vrugbaarheid, wolgehalte en vleisproduksie, eerder as bloot hul voorkoms in die skouring.

“Tegniese kenners het oor die jare klein aanpassings gemaak om die ras in lyn met moderne tegnologie en produksiebehoeftes te hou, maar die oorspronklike doelwit het basies dieselfde gebly: Die Dohne moet ’n winsgewende dubbeldoelskaap wees wat met sy wol én vleis, geld vir die produsent genereer,” verduidelik hy.

Joubert meen daar is steeds genoeg ruimte in die rasstandaard vir produsente om hul eie tipe en voorkeure uit te leef, sonder om die ras se kerneienskappe in te boet. Volgens hom lê een van die grootste toekomstige ontwikkelings op die gebied van genomiese seleksie. Dit kan help om meer ekonomiese kuddes te teel deur genetiese weerstand teen toestande soos vrotpootjie, wurmbesmetting, swak kote, laminitis en selfs aangebore afwykings soos wolvrot, te verbeter.

“Ons leef in opwindende tye. ’n Ras wat aanhoudend aanpas en in vinnig-veranderende omstandighede presteer, is die ras wat sal oorleef,” sê hy. Die feit dat Dohne-ooie gereeld teen premies op veilings verkoop word, is syns insiens ook ’n goeie aanduiding dat die ras steeds in groot aanvraag is.

Rol van ’n Dohne-inspekteur

’n Dohne Merino-inspekteur speel ’n groot rol in die ras se teelprogram en gehaltebeheer. Hulle maak seker dat kuddes aan die rasstandaarde voldoen en dat diere goeie wol- en vleisproduksie lewer. Gereelde inspeksies en evaluasies maak dit vir inspekteurs moontlik om die sterk eienskappe, produktiwiteit en gehalte van die ras te beskerm en verder uit te bou.

Om as ’n inspekteur te kwalifiseer moet telers die amptelike Dohne Merino-telerskursusse bywoon. Hierdie kursusse word gereeld by landboukolleges soos Elsenburg en Grootfontein aangebied, en fokus op die Dohne-stelsel, teelbeleid, prestasietoetsing en die evaluering van wolskape. Teoretiese kennis alleen is egter onvoldoende.

Sodra ’n persoon die junior kursus suksesvol voltooi het, volg die senior kursus. Daarna doen deelnemers praktiese ervaring saam met gesoute keurders op. Dit behels dat die voornemende inspekteurs aan verskeie keurings deelneem om die nodige ervaring op te bou, voordat hulle op hul eie kan werk.

“Praktiese ervaring speel ’n deurslaggewende rol, aangesien inspekteurs moet leer om die ras se eienskappe raak te sien, asook om die dier se voorkoms én teelwaardes korrek te interpreteer,” sê Joubert. “Aangesien die Dohne sterk op wetenskaplike data en best linear unbiased prediction– of BLUP-teelwaardes steun, is dit belangrik om daardie inligting reg toe te pas.”

Sodra die genootskap tevrede is dat iemand diere akkuraat en volgens die rasstandaarde kan beoordeel, word hulle genooi om keurings by stoetveilings te doen. Daar is nie ’n vaste tydperk of formele program wat gevolg moet word nie. Die proses ontwikkel eerder oor tyd deur opleiding, praktiese ervaring en blootstelling aan die ras.

Ervare inspekteurs word ook aangemoedig om gereeld opvolgkursusse by te woon om op hoogte te bly van nuwe tegnologie en ontwikkelings in die bedryf. Joubert sê ’n inspekteur werk uiteindelik vir die ras self en nie noodwendig vir ’n spesifieke maatskappy of produsent nie. “Jy verteenwoordig die ras en beskerm sy integriteit teen diere wat nie geskik is vir die bedryf nie. Daarom is dit belangrik om die rasstandaarde streng toe te pas en nie persoonlike voorkeure af te dwing nie,” sê hy.

Amptelike standaarde en eienskappe

Die Dohne Merino moet goed gebalanseerd wees en uitstekende vleis- en wolproduksie kombineer. Daarbenewens moet die dier funksioneel, gehard en sterk gebou wees om in uiteenlopende produksietoestande te presteer.

Onder goeie bestuur kan lammers maklik tussen 25 en 35kg teen ouderdom 100 dae weeg.

Voorkoms en bou

  • Die kop is middelmatig groot met ’n breë bek en sterk kakebeen.
  • Ramme en ooie is gewoonlik poenskop, met ’n skoon gesig sonder oormatige wol.
  • Die liggaam moet diep en stewig wees met ’n breë bors, reguit rug en goed-ontwikkelde agterkwart.
  • Sterk bene en goeie beenstruktuur is belangrik, aangesien die ras bekend is vir sy vermoë om lang afstande in moeilike veldtoestande af te lê.

Unieke woleienskappe

Die Dohne produseer ’n spierwit, digte en egalige vag van hoë gehalte.

Die skape se wol is fyn tot medium van tekstuur, met ’n veseldikte van sowat 17 tot 21 mikron. Die vag toon goeie digtheid, stapellengte en egaligheid, wat dit gewild maak in die premium wolmark. Ooie lewer jaarliks goeie wolsnitte, terwyl ramme gewoonlik nóg meer produseer. Benewens volume is skoonopbrengs en wolgehalte baie belangrik vir verdere verwerking.

Groei en vleisproduksie

Die ras is bekend vir hul vinnige groei, goeie voeromset en uitstekende karkasgehalte. Baie produsente is ook vol lof vir die ooie se reproduksievermoë. Die ras toon ook ’n goeie balans tussen vleis en vet op die karkas, wat veral tydens moeilike ekonomiese tye groot waarde vir produsente inhou. Die kombinasie van sterk groei, goeie karkasgehalte en reproduksievermoë maak die Dohne ’n gesogte ras onder kommersiële produsente.

Aanpasbaarheid en vrugbaarheid

Die Dohne Merino word as ’n besonder geharde en aanpasbare ras beskou. Een van die ras se grootste sterkpunte is sy vrugbaarheid en uitstekende moedereienskappe. Die ras se vermoë om gehalte wol, goeie vleisproduksie en sterk reproduksiesyfers te kombineer, maak dit ’n uitstekende keuse vir sowel stoet- as kommersiële boerderye. – Carin Venter, Veeplaas

Ooie toon goeie melkproduksie en speenpersentasies, wat ’n groot bydrae tot winsgewendheid lewer.