Die suksesverhaal van Suid-Afrika se Dohne Merino Deel 2: Wat doen elkeen anders?

Julian en Liesel Pienaar glo die Dohne is ’n geskikte ras vir produsente wat ekstra inkomste uit wol wil genereer, terwyl hulle vleis produseer.

Estimated reading time: 7 minutes

Vleisproduksie, wolgehalte, vrugbaarheid en reproduksie is van die belangrikste eienskappe van die Dohne Merino. Dit is ’n geharde skaapras wat met min moeite intensief en ekstensief geteel kan word. Hierdie eienskappe is nie oornag ontwikkel nie, maar is die resultaat van doelgerigte seleksiepraktyke vir ’n hoogs-gespesialiseerde dubbeldoel-skaapras.

In die tweede aflewering van die Dohne Merino-reeks het Veeplaas by ervare Dohne Merino-produsente aangeklop om uit te vind watter kopskuiwe hulle oor die jare gemaak het om in pas te bly met ’n veranderende omgewing en die ras se vooruitgang.

Lees Deel 1: Oudpresidente deel hoogtepunte.

Philip Erasmus

Charlton Dohnes, Somerset-Oos

Ek boer al verskeie jare met Dohnes en buiten die toevoeging van die indeksstelsel en best linear unbiased prediction- of BLUP-syfers, het feitlik min verander. Vir my is goeie wolgehalte ononderhandelbaar, hoewel meer klem deesdae op vleisproduksie gelê word. Ek glo nie BLUP-syfers kan die speelveld heeltemal gelyk maak of dat alle Dohnes oor dieselfde kam geskeer moet word nie, aangesien bestuurs- en voedingspraktyke tussen produsente verskil.

Iets wat my bekommer is dat die Dohne aanvanklik geteel is as ’n lae-onderhoudsdier wat maklik bestuur word. Die fokus is egter nou baie meer op die voorbereiding van skape en voer van ramme vir produksieveilings. Die Dohne is myns insiens nie meer so goed by die veld aangepas soos voorheen nie, wat probleme kan veroorsaak. Dit is belangrik om mooi na jou skape om te sien, maar die kern van die Dohne-ras as ’n geharde skaap wat relatief min moeite verg, moet behoue bly.

Philip Erasmus glo uit ’n kommersiële oogpunt dat die teler wins moet maak. Die produksie van goeie vleis, wol en aanteel bly die kern.

Danie Hattingh

Louise Dohnes, Heilbron

As Merino-produsente het ons skape aanvanklik as Walrich Merino bekendgestaan. Dit was ’n Suid-Afrikaanse dubbeldoel-skaapras wat ontwikkel is vir hoë-gehalte wol- en vleisproduksie, en geneties nou verwant was aan die Dohne Merino. As gevolg van hul soortgelyke fenotipe en eienskappe, het die telersgenootskappe van die Walrich- en Dohne Merino in 1982 saamgesmelt om die uitgebreide Dohne Merino-telersgenootskap te vorm.

Vandag boer ons uitsluitlik met Dohne Merino’s op ’n kommersiële en stoetbasis. Die Dohnes vaar uitstekend saam met ons Bonsmara-beeste op ons rooigrasweiding en oesreste. Ons het oor die jare (op die advies van die Dohne Merino-genootskap in die 1990’s) aanpassings gemaak met meer klem op vleisproduksie en fyner wol. Hoewel ek nuwe aanpassings soos kuddemetings en BLUP-syfers soms ietwat misleidend vind, presteer die Dohnes baie goed in ons boerdery. Die Dohne-vertakking verskans ook ons saairisiko’s op die plaas.

Sowat 70% van Danie Hattingh se Dohne-inkomste kom uit vleisproduksie en 30% uit wol.

Marcellene van Rooyen

Mullersvlei Dohnes, Calvinia

Ek het die stoet in 1984 begin en my man, Andries, bestuur die kommersiële kudde. Ons glo die Dohne kan in feitlik alle omstandighede aanpas. Hulle wol het destyds gemiddeld 23 mikron gemeet en mettertyd tot ’n gemiddelde van 18 tot 19 mikron verbeter .

Ons boer in ’n ongenaakbare omgewing met ‘n produksieverhouding van sowat 80% vleis en 20% wol. In 2013 moes ons die skaapgetalle verminder weens voortslepende droogte. Die belangrikste les daaruit was hoe min voer werklik nodig is vir oorlewing. Dit is natuurlik nie maklik nie, aangesien die diere swaarkry, maar hulle oorleef danksy goeie bestuur.

Dit is merkwaardig hoe stelsels en genetika oor die jare ontwikkel het tot waar ons nou by teelwaardes en genomika staan. Ons pas die voorgeskrewe Dohne-praktyke vir ons spesifieke plaastoestande aan en ek staan telkens verstom oor genetiese vordering. Ons volg die normale Dohne-rasstandaarde om binne die seleksieraamwerk te bly en vermy onnodige risiko’s wat akkuraatheid kan benadeel. Goeie, wetenskaplik-gebaseerde tegnologie wat sin maak, is ’n waardevolle instrument en die benutting daarvan in teelpraktyke is onmisbaar.

Marcellene van Rooyen dien ook op die Dohne Merino-raad.

Frans Marx

FEM Dohnes, Burgersdorp

Ek boer al 55 jaar en het die skaapboerdery stelselmatig opgebou. Veldtoestande verander weekliks – daarom moet diere onder veranderlike omstandighede kan produseer. Die wolprys het die afgelope tien jaar aansienlik gedaal in verhouding tot vleispryse. Verlede jaar kon 1kg lamsvleis byvoorbeeld teen dieselfde prys as 1kg wol verkoop word, terwyl die verhouding in die verlede eerder naby 500g lamsvleis teenoor 1kg wol was. Dit het die bedryf genoodsaak om die klem te verskuif van wolproduksie na verhoogde reproduksie en hoogs-produktiewe, geharde diere.

Ons het besef dat reproduksie-eienskappe nie visueel waargeneem kan word nie, maar slegs met die nodige tegnologie, syfers en data gemeet en verbeter kan word. Die fokus is dus minder op die mooiheid van die skape en meer op die teel van geharde diere wat bogemiddeld in veldtoestande kan produseer. Die ram is die ‘voertuig’ na beter-produserende ooie. Jy kan jou kudde slegs verbeter deur ramme te koop wie se moeders oor verskeie lamseisoene bogemiddeld presteer het.

Jannie en Estelle Jacobs, en Frans, Andriesa, Andries en Anél Marx.

Robbie Blaine en Peta Elliot

Wauldby Dohnes, Stutterheim

Die Wauldby Dohne Merino-stoet is in 1958 gestig nadat die ou Merino-tipe nie by die suur, hoëreënvalgebied van die Oos-Kaap kon aanpas nie. Sowat 15 jaar gelede het ons ’n middelverminderingstoets gedoen deur al die aktiewe bestanddele vir die beheer van haarwurm te gebruik. Ons het vooraf mismonsters van gemerkte skape geneem, hulle behandel, en 11 dae later weer opvolgmonsters geneem.

Geen van die middels het gewerk nie. Ons het kundiges van Onderstepoort genader, wat aanbeveel het dat alle skape vir minstens ’n jaar of langer van die plaas verwyder moet word; dit was vanselfsprekend onmoontlik. Ons plaaslike veearts het aangeraai dat ons eerder die weerstand van ons skape teen haarwurm moet meet.

Individuele monsters van ons stoetskape het getoon dat die wurmeiertellings tussen die diere wissel, met sommige skape wat baie hoë tellings het en ander baie laag. Ons het daarna weerstandige skape met mekaar gepaar en sodoende ’n wurmweerstandige skaap ontwikkel.

Die Wauldby Dohne-stoet is vanjaar 78 jaar oud. Van links is Rex Blaine saam met sy ouers, Robbie en Peta.

Julian en Liesel Pienaar

Yshoek Dohnes (Weltevreden Dohnes), Colesberg

My pa, André, het gedurende die laat 1950’s by my oupa, Johnny, op die plaas Weltevreden aangesluit en met Merino’s geboer. My pa was nie ’n groot voorstander van gehoringde skape en geplooide Merino’s nie, en het later na Dohnes oorgeskakel.

Ons Dohne-stoet word volgens die Dohne-stoettelingstandaarde bestuur, hoewel die hand-en-oog-metode steeds vir ons belangrik is. Ons teel ’n groot en geharde tipe skaap op die veld, waar die ooie self ook hul lammers grootmaak. Die lammers is deesdae baie gouer voerkraalgereed en bemarkbaar. Ons glo nie aan kruis- of terminale teling nie en behou geharde diere met goeie eienskappe. Waarom sal ’n mens terminale teling toepas as die kanse goed is dat daardie ooie se laaste lammers uitstekende genetika sal hê?

Ons selekteer vandag vir meer gebalanseerde ramme en produseer beter wol sonder om karkasgrootte in te boet. In 2003 was ons wolgemiddeld in goeie seisoene tussen 22 en 23 mikron. Vandag is die hele kudde se wol fyner, met ’n gemiddelde van 19 mikron of minder. Die plaas is vandag ook beter omhein as voorheen, met waterpype en kleiner kampe van sowat 200ha per 100 ooie wat lam. Hier in die Karoo pas ons aan by wat ons het en teel ons diere wat goed in ons ekstensiewe toestande presteer. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Philip Erasmus by 083 274 2870, Danie Hattingh by 082 776 1635, Marcellene van Rooyen by 082 386 4048, Frans Marx by 083 451 0969, Robbie Blaine by 082 424 5166 of Julian Pienaar by 082 886 1779.