Die suksesverhaal van Suid-Afrika se Dohne Merino Deel 1: Oudpresidente deel hulle hoogtepunte

Philippie Marais.

Estimated reading time: 6 minutes

Die Dohne Merino het sy ontstaan uit ’n kruising tussen Peppin Merino-ooie en Duitse Vleismerino-ramme wat deur die jare aangepas en ontwikkel is tot ’n besondere skaapras in eie reg. Dohne Merino-produsente en navorsers het reeds in die laat 1930’s koppe bymekaargesit oor hoe hulle die som van wol- en vleisproduksie beter kan laat klop. Die Dohne Merino-telersgenootskap is in 1966 gestig met Roelie le Roux as hul eerste president.

Hierdie reeks fokus op die Dohne Merino en bied ’n kykie na gebeure en verwikkelinge rondom ’n skaapras wat sy stempel dubbel en dwars in Suid-Afrika en die res van die wêreld afdruk.

Koos Vosloo (De Put Dohnes)

President: 2011 – 2021

Elke generasie moet die ruimte gegun word om die Dohne-ras te bevorder, sodat dit met die behoeftes van tyd tred hou.

As bestuurder van die Dohne Merino-telersgenootskap tussen 2001 en 2012, het Henri Londt se passie en kennis van skape en die kleinveebedryf oneindig baie vir ons beteken. Sy skielike siekbed en afsterwe later in 2012 was onverwags en ’n groot verlies.

In die tyd wat gevolg het, het dr Kobus Delport die leisels tydelik opgeneem. Hy het op versoek van die raad tot in 2023 as bestuurder van die telersgenootskap gedien. Hy is ’n intellektuele reus en sy tegniese kennis strek steeds tot groot voordeel van die telersgenootskap.

In 2014 het die Merino-wêreldkongres in Stellenbosch plaasgevind en die Dohne Merino-telersgenootskap is as hul ‘suster-ras’ daarheen genooi. Tydens die geleentheid is die veelsydigheid en tegniese eienskappe van die Dohne uitgelig, wat die gewildheid van die ras met rasse skede laat toeneem het.

In aanloop tot die genootskap se 50ste bestaansjaar het die raad wyle Cameron McMaster gevra om ’n boek te skryf wat die geskiedenis en ontstaan van die Dohne-ras saamvat – die boek is Birth of a breed.

Dohne Merino-wêreldkongresse

Die eerste Dohne Merino-wêreldkongres is in 2016 in Australië gehou. Dit was vir Suid-Afrikaanse Dohne-telers ’n groot voorreg om daardie geskiedkundige gebeurtenis mee te maak. Lewenslange vriendskappe is gesluit en die Australiërs se liefde vir hierdie skaapras sal my altyd bybly.

Wat plaaslike sake betref was 2017 ’n besonderse jaar vir die ras. Rekordpryse is op die nasionale veiling behaal en goeie ramverkope op produksieveilings was aan die orde van die dag. Op ’n tegniese vlak het die druk op veseldikte verminder om die Dohne sodoende meer aanpasbaar in ekstensiewe toestande te hou.

In 2018 het die telersgenootskap sy 50ste bestaansjaar in Bredasdorp gevier waar hulde gebring is aan al die pioniers en telers wat tot die sukses van die ras bygedra het. Dieselfde jaar het die Dohne Merino-wêreldkongres in Argentinië plaasgevind. Die geleentheid was gesamentlik deur Uruguay, Argentinië en Chili aangebied en was ’n ongelooflike leersame ervaring. Kongresgangers kon leer oor die uiterste klimaatsomstandighede waarin produsente moet boer en dat die Dohne-ras, ten spyte daarvan, steeds produseer en reproduseer.

In 2020 het die fokus verskuif na die Covid-19-pandemie en die eerste uitbreking van bek-en-klouseer in die land. Buiten die nasionale veiling wat as gevolg daarvan afgestel is, moes die Dohne Merino-wêreldkongres wat in Suid-Afrika gehou sou word, ook vir eers gekanselleer word.

’n Tyd vir alles

Die entoesiasme en energie van veral die jonger telers is aansteeklik, en die leisels is oor tyd met ’n geruste hart aan die nuwe generasie oorhandig. Hul visie om by die basiese kenmerke van die Dohne Merino te bly, is bemoedigend.

Philippie Marais (Lowmar Dohnes)

President: 2022 – 2025

As jy relevant wil bly met ’n Dohne-boerdery is dit belangrik om die behoeftes en uitdagings van ’n veranderende en ‘nuwe’ omgewing te probeer verstaan.

Die sukses van die Dohne Merino-ras hang daarvan af dat die ras beskerm moet word te midde van konstante veranderinge en ontwikkelings. Die Dohne is aanvanklik geteel om in ekstensiewe toestande in die Oos-Kaap en op natuurlike weiding aan te pas, wol te produseer en lammers te reproduseer. Hierdie behoefte het egter mettertyd verander.

Die aanvanklike idee dat Dohne-ramme binne klub- en streeksverband bemark kon word, was nie volhoubaar nie en in 2008 is 80% van daardie ramme op produksieveilings verkoop. Die telers het besef dat dit beter sal betaal om aangepaste ramme vir kliënte in hul onmiddellike omgewing te teel, asook om hul ramme self te bemark. Die klem het dus verskuif van bemarking binne ’n klub- of groepsverband, na die individu. Nou kon potensiële kopers die interpretasie en prioriteite van die ramtelers self sien en ervaar.

Veranderinge in die skaapbedryf word sterk gedryf deur markkragte en dit is interessant om die prys van Dohne-ramme wat deur die jare op veilings verkoop is, te vergelyk. In 2009, byvoorbeeld, was die gemiddelde prys vir ’n ram R5 611 en in 2024 was dit R11 665. Dit is ‘n aanduiding dat die ras en spesifiek die ramme produsente se sak pas.

Die Dohne Merino-genootskap het die afgelope 20 jaar tred gehou met pryse en daarmee saam riglyne opgestel wat produsente help om meer doeltreffend te boer. Die ras se wol het gedurende die tydperk baie verbeter en Dohne-wol behaal dikwels van die beste pryse op veilings. Danksy volgehoue meting produseer die ras ook lammers wat vinnig groei; die afgelope twee jaar kan Dohne-produsente op premies vir hul lammers staatmaak.

Uitdagings in skaapboerdery

Alle skaapprodusente word met uitdagings soos predasie en die behoefte aan meer veeartsenykundige dienste gekonfronteer. Daar is ook al hoe meer druk op produsente om hul lammers nóg vroeër te speen as gevolg van te min lamveld en veranderende weerstoestande. So is kruipvoeding tans in ’n groot deel van die land noodsaaklik vir die grootmaak van lammers, veral as gevolg van predasie en ekonomiese faktore.

Wetenskaplikes wat genetika bestudeer moet ook tred hou met die uitdagings om ons skape relevant te hou – ’n stoet sal net floreer in ’n stelsel wat vir ’n kommersiële kudde geskik is. Gelukkig is baie van ons telers gesoute veeprodusente wat daagliks met hul diere werk en tendense prakties kan waarneem. Dit is voordelig vir die wisselwerking tussen produsente en genetici.

Toewyding en uitnemendheid

Van die hoogtepunte wat vir my uitstaan is die absolute toewyding van die raad en genetici wat altyd bereid is om te help, soos dr Buks Olivier en dr Bernice Mostert van SA Stamboek. Ons het ook groot waardering vir dr Kobus Delport se jarelange diens en die waardevolle kennis wat hy met die Dohne Merino-telersgenootskap deel. Terselfdertyd verseker Vaughan Collier, die telersgenootskap se bestuurder, dat die Dohne sy plek volstaan as ’n uitsonderlike skaapras waarop produsente met reg trots kan wees.

Ons sien uit na die komende Dohne Merino-wêreldkongres wat in Oktober vanjaar in Suid-Afrika aangebied word. Dit gaan ’n groot hoogtepunt wees om met buitelandse telers en sprekers skouers te skuur. ’n Groot taak lê voor vir Koenas van der Westhuizen, president van die genootskap, en diegene wat hom bystaan om die geleentheid te laat realiseer. Ons wens ieder en elk net die beste toe. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting oor die Dohne Merino-wêreldkongres van 18 tot 24 Oktober, kontak Vaughan Collier by manager@dohnemerino.org of 082 663 3990 of besoek die webwerf vir registrasiebesonderhede by www.conference.dohnemerino.com/