Die konsep van optimalisering word dikwels gelykgestel aan maksimalisering van produksie. By maksimale produksiepraktyke kan dit gebeur dat die verhoogde inset van die produsent nie noodwendig tot ’n verhoging in winsgewendheid sal lei nie. Dit is waarom die konsep van strategiese voeding so belangrik is. Die produksie- en reproduksiesiklus van die ooi is bepalend wanneer besluite geneem moet word om optimale produksie te verseker. In hierdie gedeelte word die laaste derde in die siklus van dragtigheid tot speen bespreek.
Fase 3: Laat dragtigheid
Ooikondisie en voeding
Die ooi se kondisie met lamtyd het ’n uitwerking op die geboortemassa van die lammers, oorlewing, leeftydswolproduksie van die lammers, ooimortaliteit, en die ooie se wolproduksie.
Die primêre wolfollikels ontwikkel van dag 60 tot 90 van dragtigheid. Die ontwikkeling van die sekondêre follikels vind plaas van dag 90 van dragtigheid tot een maand ná geboorte. Hierdie follikels produseer die wolvesels en hul digtheid ontwikkel in hierdie stadium. Dit speel ’n belangrike rol in die leeftyd-wolpoduksie van die lam. Hoe hoër die digtheid van die follikel, hoe fyner sal die vesels wees.
Vermaerde ooie is een van die grootste oorsake van lamverliese ná geboorte. Hierdie tyd is maak of breek vir elke skaapboer!
Beste praktyke behels die volgende:
- Die ongebore lam tel 70% van geboortemassa in hierdie tydperk op. Lammers neem dus ’n groot gedeelte van die rumenkapasiteit op. Voer ooie goeie gehalte-ruvoer en gee genoegsame proteïen gedurende hierdie fase, veral by tweelingooie.
- Hou ooie in goeie kondisie, ’n kondisiepunt (KP) van 3.5 moet gehandhaaf word.
- Maksimale uierontwikkeling moet nou ook plaasvind.
- Skerp predasiebestuur op, moenie wag tot jy ’n predasieprobleem kry en dan reageer nie.
Immunisering en parasietbeheer
Die lam is in die eerste 12 weke van teenliggame uit die ooi se bies afhanklik. Sorg dus dat die ooie maksimale teenliggame het sodat bies goed van teenliggame voorsien word. Ooie moet ses weke voor lam ingeënt word teen siektes wat vir lammers dodelik is. Doseer ook ooie kort voor lam met ’n breëspektrum-wurmmiddel.
Fase 4: Lam en vroeë laktasie
Die eerste 72 uur van ’n lam se lewe is kritiek vir lamoorlewing. Die klem is hier op toesig.
Ooikondisie en voeding
Sodra die ooi gelam het, is die beperking van die fetus op die ooi se vermoë om genoegsame ruvoer in te neem, nie meer teenwoordig nie. Die beskikbaarheid van genoeg voer van goeie gehalte is bepalend vir die lam se groei.
Beste praktyke behels die volgende:
- Lakterende ooie moet nie meer as 25 tot 50g in liggaamsmassa (vir eenlinge) en 60 tot 100g in liggaamsmassa (vir tweelinge) per dag verloor nie.
- Lakterende ooie moet vir twee maande ná lam steeds goeie voeding kry. Hou aan met die aanvullende byvoeding. Die voordele hiervan is as volg:
- Verhoogde ovulasie met die volgende paring 180 dae later.
- Verhoogde laktasie.
- Verhoogde lamoorlewing.
- Swaarder lammers.
- Meer wolfollikel-ontwikkeling en leeftyd-wolproduksie van lammers.
- Ooie sal ook meer wol produseer.
- Moenie vroeg soggens voer nie, want ooie wat sonop gelam het kan maklik hul lammers los om by die voer uit te kom.
Lamstelsels en algemene bestuur
Hoe korter die lamseisoen, hoe makliker is dit om doeltreffende toesig oor die lamproses te hou:
- Intensifiseer die lamproses en toesig. Kleiner troppies ooie toon beter lamoorlewing as groot troppe. Moenie troppe groter as 100 ooie maak nie. Die maksimumgrootte van ’n trop behoort 200 ooie te wees.
- Sorg vir skuiling, koelte, en skoon drinkwater.
- Predasiebestuur!
- Spaarveld of aangeplante weiding word aanbeveel wanneer daar in die droë seisoen gelam word.
- Lam verkieslik tweelinge apart.
- Skerp toesig op. Stap elke dag twee keer rustig deur die ooie wat lam of doen inspeksies te perd.
- Merk alle tweelinglammers met ’n spesiale merk.
Kruipvoeding en lamvoeding
Kruipvoeding is een van die belangrikste hulpmiddels vir vinnige lamgroei. Die goeie voeromsetting van lammers maak dit goedkoper om die lam direk kos te gee as om dit deur die ooi te doen. Kruipvoeding is reeds voorheen breedvoerig bespreek.
Fase 5: Mid- tot laat laktasie
Lamvoeding
Hierdie fase is ’n kritieke tyd vir die lammers. Lammers groei gewoonlik baie goed gedurende die beginfase, en skielik begin hulle agteruitgaan. Waarom? Die ooie se melkproduksie neem vinnig af en die lam moet nou sterk begin vreet om kondisie te behou. Die lam se grootste mededinging om voeding kom van die ooie af. Dit is nou ’n goeie tyd om ooie en lammers na gespaarde veld te verskuif en voort te gaan met kruipvoeding van lammers.
Lamgesondheid
Lammers is meer vatbaar vir die negatiewe effek van inwendige parasiete. Hou lammers vir simptome soos maagwerkings en vermaering dop. Moenie skroom om jou veearts te kontak indien probleme in hierdie tyd opduik nie.
Soog en droog
Inspekteer die uiers. ’n Ooi met vuil spene het nie ’n lam wat aan haar suip nie en het een of ander tyd haar lam verloor. Soveel as 65% van hierdie ooie sal die volgende jaar weer ’n lam verloor. Hulle behoort uitgeskot te word.
Hierdie is ’n doeltreffende metode om speenpersentasie en doeltreffendheid van die ooikudde te verhoog.
Fase 6: Speentyd
Speenouderdom
Melkproduksie bereik ’n piek op 3 tot 4 weke ná lam, waarna dit afneem. Die ideale speenouderdom is 12 weke, mits die lammers minstens 45% van die verwagte volwasse massa weeg. Die minimum-speengewig is 22 kg.
Goeie voeding van ooilammers tot en met paartyd is ’n goeie belegging in jou skaapboerdery. Hul leeftydproduksievermoë word hierdeur verhoog.
Speenstelsels
- Ruil ooie en lammers om – die een trop se lammers word met dié van ’n ander trop omgeruil.
- Speen lammers weg van die ooier – lammers bly agter in die kamp en ooie word weggeneem.
- Speen saam met ouer diere – die lammers word saam met ouer, ervare diere in ’n kamp geplaas sodat die ouer diere hulle aan die speenkamp bekendstel.
Seleksie en uitgroei van vervangingsooie
Speenlammers wat vir vervangingsooie geoormerk is, word dikwels tussen speen en die eerste paring verwaarloos. Hulle bereik dus moeilik hulle paarmassa wat tot ’n verlaging in leeftydproduksie lei.
Seleksieplan vir identifisering van vervangingsooie
- Weeg alle ooitjies op speen.
- Gooi die ligste 5 tot 10% in elke groep uit, asook diere met bouvormgebreke.
- Paar almal op ’n paarbare ouderdom en gewig.
- Skandeer ooitjies vir dragtigheid. Prul niedragtige ooie, mits die besetting 60% was. Doen finale seleksie uit dragtige ooitjies.
Soog en droog prulooie wat nie lammers het nie. Hulle spene sal vuil wees. Swak lammers moet by die ooie bly ná speen. Soog en droog ooie weer ná 14 dae. Die ooie met skoon spene is die moeders van swak lammers. Verwyder hulle uit die trop.
Fase 7: Na speen en voor paring
Inspeksie van ooie
Inspekteer ooie se uiers en tande. Skot ooie met uier- en tandprobleme uit.
Voervloeibeplanning
Doen vroegtydig voervloeibeplanning vir die volgende seisoen.
Seleksieplan by volwasse ooie
- Skot alle ooie wat nie dragtig raak nie uit, mits besetting bo 75% is.
- Ooie met vuil spene tydens merk of speen moet uitgeskot word.
- Identifiseer ooie wat tydens die eerste siklus dragtig raak
– Jan Louis Venter






