Die konsep van “optimalisering” word dikwels aan “maksimalisering” van produksie gelyk gestel. Maar maksimale produksiepraktyke, dit wil sê die verhoogde insette van die produsent, verseker nie noodwendig ‘n verhoging in winsgewendheid nie. Dit is waarom die konsep van strategiese voeding so belangrik is. Die produksie- en reproduksiesiklus van die ooi is bepalend wat betref die besluite wat geneem moet word om optimale produksie te verseker.
Die produksiesiklus kan in sewe fases verdeel word, naamlik:
- Voorbereiding van ooie en ramme voor paartyd.
- Vroëe en mid-dragtigheid.
- Laat-dragtigheid.
- Lamtyd en vroeë laktasie.
- Mid- tot laatlaktasie.
- Speentyd.
- Ná speen en voor paring.
Fase 1: Voorbereiding van ooie en ramme voor paartyd
Ooie
Die voorbereiding van ooie moet ten minste ses weke voor paring begin. Die ooie moet gesond wees. Beheer interne asook eksterne parasiete indien nodig. Maak ook seker dat hulle reeds buite die inentingstydperk vir lewende entstof is, dit wil sê indien die nawerking van die entstof drie weke is, moet die ooie die laaste inenting nege weke voor paartyd kry.
Gedurende hierdie tydperk is dit belangrik dat die ooie in ’n goeie kondisie is en ’n kondisiepunt van ten minste drie het. In hierdie tydperk speel die kondisie van die ooi ’n baie belangrike rol by die verkryging van meerling-geboortes. Prikkelvoeding help ook met die verkryging van meerling-geboortes. Gee veral prikkelvoeding aan jongooie, ooie wat as meerlinge gebore is, en ooie wat die vorige seisoen wel meerlinge gelam het. ’n Paar riglyne:
- Ooie wat met CIDRS of sponsies gesinchroniseer word, moet minstens drie weke lank prikkelvoeding ontvang. Dit moet 14 dae voor paring begin tot en met ’n week ná paring.
- Ooie wat met koggelramme gesinchroniseer word, moet vir vier weke lank prikkelvoeding ontvang. Dit moet 14 dae voor paring begin tot en met twee weke na paring.
- Ooie wat nie gesinchroniseer is nie, moet vir ses weke prikkelvoeding kry tot en met vier weke ná paring begin het.
Die koste van hierdie prikkelvoeding moet teen die resultaat opgeweeg word. Hoe korter die prikkelvoeding-periode, hoe minder sal dit kos, maar die bykomende koste van die sinchronisering moet dan bygereken word.
Die reaksie van ooie op prikkelvoeding wissel baie afhangende van die toestand van die veld en die beskikbaarheid van hoë gehalte-weiding. Indien daar voldoende goeie weiding in ’n spaarkamp of kampe beskikbaar is, kan dit ook as prikkelvoeding dien, maar dit sal oor ’n langer periode geskied (ongeveer twee maande voor paartyd). Prikkelvoeding moet ook goeie proteïen bevat aangesien hormone uit proteïen geproduseer word. Praat gerus met jou voedingkundige hieroor.
Ramme
Die voorbereiding van ramme begin reeds agt weke voor paartyd aangesien sperma agt weke neem om reg te wees vir bevrugting. Onthou, wat inentings betref, geld dieselfde vir ramme as vir ooie:
- Voer alle bestuursaksies soos vrugbaarheidstoetse, die monitering van geslagsiektes, en die prul van ou ramme in hierdie tydperk uit.
- Maak ramme fiks – hulle gaan hard werk en onfikse ramme kan nie die pas volhou nie.
- Gee hoë proteïen-byvoeding. Wees versigtig om te veel energie in die byvoeding te sit –dit lei tot vetaansameling by die nek van die testis en kan tot tydelike onvrugbaarheid lei.
Paartyd
Sit koggelramme nege dae voor paartyd by die ooie teen ’n koers van 1%. Verwyder koggelramme in die namiddag en sit dadelik die ramme by. Dit is koeler in die namiddag en die ramme het ’n hele nag, wat koeler is, om te werk. Moenie onnodig met die diere werk gedurende paartyd nie.
Fase 2: Vroëe tot mid-dragtigheid
Gedurende hierdie fase moet die ooie hulle paringskondisie behou. Ooie moet stil gehou word vir 30 dae om maksimale aanhegting van die fetus/se te verseker. Die plasenta ontwikkel tussen dag 30 en 90 van dragtigheid. Indien die ooi in hierdie tydperk voedingstres ervaar, sal die plasenta onderontwikkeld wees. Die plasenta skei estradiol af, wat die ontwikkeling van die melkkliere stimuleer. Hierdie proses vind in die laaste derde van dragtigheid plaas, maar indien die plasenta nie maksimaal ontwikkel het nie, sal melkklier-ontwikkeling ook gestrem word. Die plasenta hou ná 90 dae op om te ontwikkel en dit kan nie met bykomende voeding daarna aangehelp word nie. – Jan Louis Venter






