Aansienlike groei in die produksie van wol in die kommunale wolgebiede kan Suid-Afrika binne die volgende tien jaar heel voor in die internasionale wolwedloop plaas. Dit word as een van die groot triomfe van samewerking in Suid-Afrika beskou. Na raming hou kommunale boere nagenoeg 26% van die 15 miljoen wolskape in Suid-Afrika aan. Die produksie van wol uit kommunale geledere het van 2000 tot 2019 met 995% toegeneem, met ’n hoogtepunt van 6,24 miljoen kilogram wol in 2017.
Volgens die jongste BFAP-basislyn vir die tydperk 2021 tot 2030 kon die wolbedryf danksy openbare en private vennootskappe kommunale boere suksesvol bystaan om ’n hoë waarde-kommoditeit vir die uitvoermark te produseer. Leon de Beer, bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), sê die wolinkomste van kommunale boere kan na verwagting verdubbel tot R700 miljoen per jaar.
Die voortsetting van die finansiering van die baie suksesvolle genetiese verbeteringsprojek, die oprig van skeerinfrastruktuur deur die staat, asook private ondersteuning is uiters belangrik om dié groei te kan vermag. Die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het egter die finansiering van die verbeteringsprojek in 2019 opgeskort.
Danksy staatsfinansiering vir die projek is daar sedert 2002 nagenoeg 3 000 ramme per jaar in die kommunale wolgebiede versprei om sodoende die wolgehalte te verbeter. Altesaam 48 000 ramme is dus in dié tydperk onder kommunale boere versprei, en wolproduksie het van 223 000kg in 2002 tot 5,4 miljoenkg in 2018 toegeneem.
Dié wol is hoofsaaklik vir China bestem. “Grootskaalse genetiese verbetering van die skaapkuddes is onontbeerlik en behoort voorkeuraandag te kry, tesame met voldoende en geskikte skeerinfrastruktur,” sê De Beer.
Gee hieraan aandag
Daar moet hard gewerk word om boere se produksiestandaarde aan te pas vir beter produktiwiteit. “Oorbeweiding moet aandag kry. Veldbestuurstelsels moet ingestel word, saam met beplande produksiestelsels waarin ’n korrekte dek- en lamseisoen gevolg word om seisoenale siklusse optimaal te benut.” De Beer voeg by dat veesuipings en kampe tans steeds grootliks ontbreek.
Die proses moet ondersteun word deur ’n doeltreffende adviesdiens en mentorskapprogram. Die NWKV se ontwikkelingsprogram in die kommunale gebiede van die Oos-Kaap gaan steeds voort. Dit word gedoen volgens ’n kontrak met Cape Wools en deur die Woltrust gefinansier. Die program word op grondvlak deur sewe opgeleide produksie-adviseurs met bewese ervaring bestuur. Twee van die poste word sedert Junie vanjaar deur ’n kontrak met Ethical Trade Norway (ETN) gefinansier, met geld van die Noorweegse regering.
Op die pad na groter volhoubaarheid staan mentors boere by oor aspekte wat wissel van weidingsbestuur, dieregesondheid en dierewelstand, tot roofdierbestuur en seleksie. Plaaslike wolstrukture binne die kommunale gebiede kry ook ondersteuning en opleiding om leiers te help om ’n doeltreffender en funksionele ondersteuningsrol te ontwikkel.
Die NWKV het ’n ooreenkoms met die nie-regeringsorganisasie Fulirex aangegaan om die ETN-projek in werking te stel, met die rol van vroue in wolproduksie wat veral aandag kry. Kommunale boere se toegang tot internasionale markte word verder bevorder danksy die oprigting van infrastruktuur om die hantering en skeer van die wol te verbeter, sodat boere beter pryse vir hul wol kan kry.
Volgens De Beer is ses skeerhuise onlangs opgerig, waarvan vier deur die mynboumaatskappy Sibanye-Stillwater gefinansier is en die ander twee deur die First Rand Foundation. “Al ses skeerhuise is in kommunale gebiede van die Oos-Kaap opgerig vir gebruik deur kommunale wolproduserende gemeenskappe om hul skape te kan skeer, die skeersel voor te berei, en só kollektief toegang tot die formele mark te verkry.” Die afgelope jaar kon die NWKV se adviseurs 100 kleinboere bystaan om gehalteramme en -ooie te selekteer wat dié boere dan self aangekoop het om die teelmateriaal van kuddes te verbeter.
Lees meer oor toegangsbeheer op jou plaas.
Waarde van die wolskaap
Ondanks die vooruitsig op groei ervaar die boere ernstige struikelblokke. Volgens De Beer beleef kommunale produsente steeds die nagevolge van die afgelope paar jaar se droogte. “Groot lamverliese word gely, tesame met ooiverliese wat hoofsaaklik aan verkeerde produksiepraktyke en -patrone en oorbeweiding toegeskryf word.” Roofdiere en rondloperhonde in kommunale gebiede is ook ’n groot probleem en kan groot verliese veroorsaak.
De Beer voeg by dat die finansiële druk op huishoudelike inkomste weens die droogte, die impak van die Covid-19-pandemie en ander probleme kommunale boere dwing om hul wol teen verlaagde pryse op informele markte te verkoop. “Dit is dadelik kontant in die sak om in baie gevalle net te kan oorleef en kos op die tafel te sit.”
Ondanks die probleme skenk baie kommunale produsente toenemend aandag aan hul wolskaapvertakking en besef hulle die waarde en bydrae van die wolskaap tot huishoudelike inkomste, sê De Beer. “Topskeerhuise verdien reeds beter pryse vir hul wol as wat die Cape Wools SA-markaanwyser aandui.”
Lees meer oor herstel van die veld na afloop van ‘n droogte.
Volhoubare wol
Volgens BFAP het die internasionale wolprys in 2018 op rekordvlakke gaan draai vanweë ’n sterk vraag na natuurlike vesel in die klerebedryf. Dié pryse het gedurende 2019 en die begin van 2020 met 25% gedaal, deels as gevolg van die handelsoorlog tussen China en Amerika, en droogtes wat Australiese produksie geknou het. Die prys het van Maart tot September 2020 met nóg 45% gedaal weens ekonomiese probleme, handelslogistieke struikelblokke, en onsekerheid as gevolg van die Covid-19-pandemie.
Die mark kon weer grotendeels herstel en het met meer as 60% gestyg teen Junie 2021. Die swakker rand het gedurende die pandemie verdere ondersteuning gebied teen die aansienlik laer internasionale wolprys. ’n Sterker rand het egter die herstel van die wolprys effens verwater gedurende 2021.
Volgens BFAP wil dit voorkom of daar internasionaal ’n toenemende neiging is om weg te beweeg van die sogenoemde kitsmodes, met verbruikers wat eerder verkies om meer volhoubaar geproduseerde, hoër waarde-kledingstukke te koop. Met die laer prysvlakke van wol kon kleremaatskappye dit dus bekostig om meer wolprodukte by hul aanbiedings in te sluit. Billy van Zyl, voorsitter van die NWKV, is baie optimisties oor die pryse vorentoe en die toekoms van wol.
“Die volhoubare Cape Wools-standaard (SCWS) en die verantwoordelike wolstandaard (RWS) bevoordeel Suid-Afrikaanse wolboere omdat ons van die min lande ter wêreld is wat doeltreffend ‘groen wol’ kan produseer.” Suid-Afrika is tans die voorste produsent van volhoubaar gesertifiseerde wol. Met die aanvang van die 2021–’22-wolseisoen was meer as 30% van die wol op veilings as volhoubaar gesertifiseer.
“Dít is die produk wat die wêreld wil hê.” Volgens John Lapersonne, direkteur van Lapersonne Wool, het boere op die agtste veiling van die seisoen premies van 17 tot 21% gekry vir wol van 21-mikron en sterker, wat ’n groot impak op boere se inkomste het. “Dié premies het ook ’n beduidende impak op die gemiddelde wolprys.”
SA in gunstige posisie
Die internasionale diereregtegroep Four Paws het in September ’n ope brief, wat deur meer as 30 klerehandelsmerke soos Adidas en Patagonia onderteken is, uitgereik waarin hulle onderneem om die gebruik van wol wat met die hulp van die Mules-operasie geproduseer is, te beëindig. Die wêreld se grootste wolprodusent, Australië, moet nou alternatiewe metodes gebruik om hul skape teen vlieë te beskerm. Dié praktyk is tans ook nie meer aanvaarbaar in Suid-Afrika nie, wat ’n verdere voordeel vir Suid-Afrikaanse produsente kan wees.
“Ons is die res van die wêreld ver voor. Teen 2030 gaan daar nie meer wol gekoop word van skape wat die Mules-operasie ondergaan het, of wat nie nagespeur kan word tot op die plaas, of wat nie ‘groen’ geproduseer is nie,” sê Van Zyl. Kommunale boere sal óók bevoordeel word as hulle volhoubaar geproduseerde wol kan lewer. Volgens De Beer word die SCWS nou aangepas vir kommunale omstandighede. Die NWKV werk nou saam met Cape Wools om die standaard daarvoor aan te pas.
“Baie van die aanbevelings om die SCWS aan te pas, word oorweeg aan die hand van die standaard van kommunale kasjmierprodusente van Mongolië.” ’n Gidsprojek word beoog. Adviseurs van die NWKV is reeds opgelei en van rekenaars voorsien om die vereistes wat vir die standaard gestel word, te evalueer en oudits op grondvlak uit te voer vir die sertifisering van produksiepraktyke.






